“Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele
is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos
in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood…”
Matt. 6:9-11
Die mees basiese betekenis van
die woord “heilig” in die Bybel is om volkome afgesonder te wees vir God en Sý doelwitte. Wanneer Jesus vir Sy dissipels leer om te bid
in Mattheüs 6 maak Hy dit baie duidelik dat alle gebed moet plaasvind op
heilige grond. Hy doen dit deur die
gebed daar te begín met die Vader se naam, koninkryk en wil. Eers dan kom die petisie “gee ons vandag ons
daaglikse brood”. Al ons gebedsversoeke
moet dus op afgesonderde grond voor God gebring word, oorgegee en uitgegiet
voor Sy aangesig. Hoe dikwels storm ons
net in die troonkamer in met ons lysie van petisies? Veel beter om eers stil te raak en te fokus
op die Vader met nederige belydenis dat ons in alles wil hê dat Sy naam,
koninkryk en wil die voorrang moet geniet.
Hierdie beginsel word weereens duidelik deur Jesus onderstreep ‘n
bietjie verder aan in Mattheüs
6, “maar soek eers die koninkryk van God en sy
geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (vers 33). Daar kan daarom geen verwarring wees op
hierdie punt nie; God verwag van ons om in ons gedagtes en woorde op hemelse
grond te kom voor ons aardse versoeke begin uitspreek.
No comments:
Post a Comment