“Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk
vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op
die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is
tydelik, maar die onsigbare ewig.” 2 Kor.
4:17-18
Van aardse heerlikheid na hemelse heerlikheid, van die
sigbare na die onsigbare, van die tydelike na die ewige. Dit is die oproep van hierdie twee kragtige
verse en dit is super-aktueel, omdat ons lewe in ‘n tyd waar alles gaan oor die
hier-en-nou. In vergelyking met die
meeste ander mense sou ons sekerlik nie Paulus se verdrukking beskryf het as “ligte”
verdrukking nie! Hier is net ‘n kort
uittreksel uit sy lewe: “Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek
gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ‘n nag en ‘n dag het ek op die
diepwater deurgebring— dikwels op reis,
in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare
van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op
see, in gevare onder valse broeders; in
arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder
ete, in koue en naaktheid. Behalwe dit
alles my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes” (2 Kor. 11:25-28).
Hoekom beskryf hy dan sy verdrukking as ‘n “ligte verdrukking”? Want Paulus se oë was nie op die sigbare en die tydelike gerig nie, maar op die
ewige. Paulus het te alle tye die
heerlikheid van Christus aanskou (2 Kor. 3:18).
Hoe lyk dit met my en jou? Paulus
was ‘n mens net soos ek en jy. As hy in
geloof kon uitstyg bo sy omstandighede deur sy fokus te skuif na die onsigbare
en die ewige kan ons ook. Geloof leef
hier op aarde al in die lig van die hemelse heerlikheid, want geloof word nie
beweeg deur die sigbare nie, maar deur die ewige Woord van God. Boonop sien geloof daar is ‘n veel groter
heerlikheid wat kom en skenk ons sodoende ‘n onuitspreeklike blydskap te midde
van die moeilikste omstandighede denkbaar.