Monday, 17 August 2015

GELOOF (IS) GEHOORSAAM



“Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom.”  Heb. 11:8 

Op alles wat God in Sy Woord sê, antwoord geloof “dit is waar”!  Dit is die fondasie van Bybelse geloof.  Maar ‘n fondasie is nie net daar om mooi te lyk of te beïndruk nie.  ‘n Fondasie is bedoel om op gebou te word en hierdie bouwerk het in geestelike terme alles te doen met gehoorsaamheid.  God openbaar homself aan ons as die mees betroubare Persoon in die heelal.  Daarom kan ons sy Woord glo.  Ons geloof is eerstens in wie Hý is, dan kan ons met groot vrymoedigheid en vreugde onwrikbaar glo en bely wie ons ín Hom is.  Net vanuit daardie plek van innerlike sekuriteit word gehoorsaamheid ‘n werklikheid.  Hierdie gehoorsaamheid is ‘n geloofsgehoorsaamheid en is iets heeltemal anders as ek wat probeer om uit die krag van my eie wil ‘n getroue dissipel te wees.  Abraham het “gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang”, want Hy het vertroue gehad in die Een wat hom geroep het en hy het geweet dat sy eie identiteit onlosmaaklik verbind was aan die wese en karakter van ‘n enige en almagtige God (Deut. 6:4).  Abraham se lewe was nie net ‘n voorbeeld vir ons nie, maar ‘n oproep tot dieselfde soort geloof wat moet lei tot dieselfde sóórt gehoorsaamheid, al verskil die detail van ons lewens en gehoorsaamheid in baie opsigte van syne.

1 comment:

  1. I appreciate this type of work. Thanks the head up and keep posting like this. :lol:
    Online journalism programs

    ReplyDelete