“'Much that once was is lost, for none now live who remember
it.” Hierdie ysingwekkende woorde uit ‘n
populêre rolprent van ‘n paar jaar gelede laat ‘n mens diep dink oor die verantwoordelikheid
van elke generasie om nie kosbare dinge te laat verlore gaan nie.
“Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die
dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk
al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders
bekend maak.” Deuteronomium 4:9
“Want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind
en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.” 2 Petrus
1:9
Dit is verstommend om te sien hoe maklik ons die verlossingswerke
van God en die geestelike lesse wat Hy ons geleer het, kan vergeet. Ons word so maklik ingesluk deur die beelde
en klanke van die sintuiglike wêreld en die eise van die onmiddellike. Dissipels van Jesus is reeds regverdig
verklaar in Christus en afgesonder vir God, maar om teen ‘n wêreldse kultuur in
te beweeg is nie iets wat sommer net vanself gebeur nie. Sonder ‘n intense fokus en ‘n diep toewyding
van hart dryf ons maar net saam met die korrupsie en vervallenheid van ons kultuur en tydgees en vergeet ons dat
ons gedurig moet rekening hou met die onsigbare geestelike werklikheid. Dit is een van die redes waarom ons so
dringend nodig het om die Bybel op te neem en met aandag te lees en dit wat ons
leer sonder versuim oor te dra aan die jonger geslag. Dit moet veral gebeur terwyl jou kinders nog
in jou huis is. Daarna word dit al hoe
moeiliker. Tensy die jonger generasie by
die ouer generasie die heerlikheid van Christus sien en oorneem, gaan dit
verlore en word weggewaai deur die winde van tyd en omstandigheid. Dit gebeur so maklik. Moenie vergeet nie!
No comments:
Post a Comment