"Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid
woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die
verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges
en te laat herlewe die hart van die verbryseldes." Jesaja 57:15
“Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die
hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” Jakobus 4:6
Die Bybel is propvol kosbare beloftes, maar let bietjie op
hoe dikwels word daardie beloftes verbind aan die gesindheid van ons
harte. Dit is die nederiges, die
verbryseldes, die swakkes, die gebrokenes, die wat “arm van gees” is, die wat
weet hoe afhanklik hulle van God is; dit is hulle wat met groot oortuiging en ‘n
vaste geloof die beloftes van God kan neem vir hulleself. Daarteenoor leer die Bybel baie duidelik dat
God die hoogmoediges, die selfvoldanes, die selfgenoegsames, die onafhanklikes,
die wat in hulleself sterk is; nie net verdra nie, maar aktief “weerstaan”. Ons groot voorbeeld bly maar Jesus self. Hy wat die volste reg gehad het om net in te
stap en oor te neem hier op aarde het gekom om te dien en Sy lewe te gee vir
ons. Hy het Sy hele lewe lank in die
liggaam in ‘n absolute nederige afhanklikheid van die Vader geleef en onder
mense was Hy ‘n dienskneg. Dit beteken
nie dat Hy nie ook met gesag opgetree het nie, maar dit was die gesag van
iemand wat geleef het in die krag van Sy Vader.
Jesus is die enigste een wat die reg gehad het om uit Sy eie krag te
leef en op te tree, maar Hy het in alles geleef as ‘n afhanklike sodat Hy vir
ons ‘n perfekte voorbeeld kon stel.
Daarom dring Sy woorde so diep in vir die wat ore het om te hoor: “leer
van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir
julle gemoed” (Matt. 11:29).