Wednesday, 30 September 2015

HERLEWING VIR DIE NEDERIGES EN DIE VERBRYSELDES



"Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes." Jesaja 57:15

“Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”  Jakobus 4:6 

Die Bybel is propvol kosbare beloftes, maar let bietjie op hoe dikwels word daardie beloftes verbind aan die gesindheid van ons harte.  Dit is die nederiges, die verbryseldes, die swakkes, die gebrokenes, die wat “arm van gees” is, die wat weet hoe afhanklik hulle van God is; dit is hulle wat met groot oortuiging en ‘n vaste geloof die beloftes van God kan neem vir hulleself.  Daarteenoor leer die Bybel baie duidelik dat God die hoogmoediges, die selfvoldanes, die selfgenoegsames, die onafhanklikes, die wat in hulleself sterk is; nie net verdra nie, maar aktief “weerstaan”.  Ons groot voorbeeld bly maar Jesus self.  Hy wat die volste reg gehad het om net in te stap en oor te neem hier op aarde het gekom om te dien en Sy lewe te gee vir ons.  Hy het Sy hele lewe lank in die liggaam in ‘n absolute nederige afhanklikheid van die Vader geleef en onder mense was Hy ‘n dienskneg.  Dit beteken nie dat Hy nie ook met gesag opgetree het nie, maar dit was die gesag van iemand wat geleef het in die krag van Sy Vader.  Jesus is die enigste een wat die reg gehad het om uit Sy eie krag te leef en op te tree, maar Hy het in alles geleef as ‘n afhanklike sodat Hy vir ons ‘n perfekte voorbeeld kon stel.  Daarom dring Sy woorde so diep in vir die wat ore het om te hoor: “leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed” (Matt. 11:29).

1 comment: