Thursday, 24 September 2015

DIE OUERHUIS IS DIE PRIMÊRE LEERSKOOL VIR KINDERS




Die Ou en Nuwe Testament gee baie spesifieke instruksies vir ouers om hulle kinders op te voed met die Bybel:

"En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan." Deut. 6:6-7

"En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here." Efes. 6:4

Die "tug en vermaning van die Here" waarvan Efesiërs 6:4 praat, word in die Bybel gevind. Nêrens anders as in God se Woord vind ons suiwer Goddelike "lering, vermaning, teregwysing en onderwysing in die geregtigheid" nie (2 Tim. 3:16). Die Woord van God is 'n lamp vir ons voet en 'n lig vir ons pad (Ps. 119:105) en dit geld ook vir ons kinders!  Sonder ywerige omgang met die Skrif leef ons en ons kinders in die duisternis van 'n gevalle wêreld.  Onderwysers en Sondagskoolonderwysers kan nooit opmaak vir 'n ouerhuis waarin die Woord van God nie gespreek, geleer en geleef word nie.  Die leringstruktuur vir God se mense in terme van gemeentelewe en leierskap het verander met die oorgang van die Ou na die Nuwe Testament, maar die basiese instruksie vir lering in die ouerhuis het nie verander nie.  Dit is ‘n radikale waarheid en baie betekenisvol! 'n Kind moet geestelike leiding primêr in sy eie huis kry.  Hoe lyk die prentjie in ons land?  As ons gemeentes nie ouers dringend begin bystaan om met erns hulle verantwoordelikheid op te neem nie, is dit baie onwaarskynlik dat ons kinders die morele verval in ons samelewing sal kan vryspring om sodoende 'n rein getuienis van Christus te gee vir 'n verlore wêreld.

No comments:

Post a Comment