Monday, 28 September 2015

WANNEER MY PLANNE EN VERHOUDINGS PLATVAL



Alles wat nie op Jesus gebou word nie is al klaar besig om dood te gaan, al lyk dit op die oog af hoe suksesvol en florerend.  Ons het nodig om gedurig ons gedagtes te vernuwe en onsself, ons naaste en ons wêreld te sien in die lig van die nuwe skepping.

“En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.” 2 Kor. 3:18

Die mens se identiteit, roeping en bestemming is in Christus.  Buite die openbaring van Jesus in die Nuwe Verbond maak niks werklik sin nie.  

“Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie. “ 2 Kor. 5:16

Ongeag hoe hard ons byvoorbeeld probeer om verhoudings te bou op ander fondasies as Jesus stel dit telkens maar net weer teleur.  Alles val uitmekaar uit en is soos die boek Prediker oor en oor herhaal “tevergeefs”.  Wanneer ons egter Jesus aanskou in die heerlikheid van die Verbond wat “regverdig maak” (2 Kor. 3:9) val dinge in plek en begin ons ook onsself en ander mense stelselmatig beter verstaan in die lig van God se bloudruk vir almal van ons.   Van ons mooiste planne vir ons lewens val so maklik plat en dan wonder ons hoekom dit so is.  Die enigste ding wat vas en seker is, is die heerskappy en heerlikheid van Jesus.  Waar sien ons hierdie werklikheid nou reeds in ‘n volmaakte vorm?  In die openbaring van Jesus, net Jesus.  Hy alleen verander en vernuwe gedurig ons perspektief en lei ons aan na daardie dag wanneer ook hierdie gebroke wêreld heeltemal nuutgemaak sal word (Openb. 21:1).

2 comments: