Monday, 23 November 2015

ORE OM TE HOOR



By verre die grootste deel van dissipels van Jesus se verantwoordelikheid is om seker te maak dat ons onverdeelde aandag skenk aan wat God vir ons wil sê.  Ons aandag word deur so baie dinge afgelei en ons ore is oop vir soveel goed wat nie ewigheidswaarde het nie.  Die herstel en genesing van ‘n lewe voor God begin áltyd met “nuwe ore” om te kan hoor wat God vir ons wil oordra in Sy Woord.  Verder is die behoud van ‘n oorwinningslewe 100% afhanklik van my heilige vasberadenheid om aan te hou hoor én luister.  Net die wat “hoor” kan verstaan en net die wat verstaan kan oorwin deur die krag wat God verleen deur Sy ewige Woord.  

“En Hy het die skare na Hom geroep en vir hulle gesê: Luister en verstaan!”  Matt. 15:10  

Gehoorsaamheid begin áltyd met “luister”, want die krag om te kan gehoorsaam word net ontsluit wanneer die woorde van God ‘n vastrapplek gekry het in my hart.  Kyk bietjie na hierdie klein uittreksel van tekste uit die Ou en Nuwe Testament wat ‘n appél maak op ons om te hoor en te luister.  Neem jou konkordansie en soek nog tekste wat dieselfde appél maak.  Jy sal verbaas wees om te sien hoe dit soos ‘n goue draad regdeur die Bybel loop.

“Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig.”  Jes. 55:2  

“Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe; Ek wil met julle ‘n ewige verbond sluit: die bestendige genadebewyse van Dawid.”  Jes. 55:3  

“Maar Jeremia antwoord: Hulle sal u nie oorgee nie. Luister tog na die stem van die HERE in wat ek aan u sê; dan sal dit goed met u gaan en u siel sal lewe.“  Jer 38:20  

“En elke siel wat nie na dié Profeet luister nie, sal uit die volk uitgeroei word.”  Hand. 3:23  

 “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in die paradys van God is.”  Openb. 2:7 

No comments:

Post a Comment