Wednesday, 25 November 2015

VERVANG JOU FRUSTRASIE MET JESUS SE PRESTASIE!



Gehoorsaamheid is ‘n uiters belangrike deel van ons lewe as dissipels van Jesus, maar ‘n verkeerde verstaan van gehoorsaamheid bring nie ‘n seën nie, maar groot frustrasie.  Paulus som vir ons gehoorsaamheid onder die Ou Verbond op in Romeine 10 vers 5 met die aanhaling: “Die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe.”   Vroeër in Romeine sê Paulus dit is Jesus se gehoorsaamheid wat regverdig maak (Rom. 5:19).  Die klem lê in die Nuwe Testament op Jesus se gehoorsaamheid en ons geloof.  Dit is juis ons geloof in Sý gehoorsaamheid wat die krag is van ons gehoorsaamheid.  Daarom kry ons die term “geloofsgehoorsaamheid” in die Nuwe Testament (Rom. 1:5). Gehoorsaamheid in die Nuwe Verbond is ‘n reaksie op die Vader se evangelie-aksie in Christus.  Is jy gefrustreerd met jou onvermoë om ‘n gehoorsame lewe te lei?  Gaan weer terug na die Nuwe Testament en begin lees dit met die klem op Jesus se prestasie en nie in die eerste plek jou verantwoordelikheid nie.  Maak seker dat Jesus se prestasie (sy verlossingswerk) jou meer beïndruk as enigiets anders in die Bybel en jou hele uitkyk op gehoorsaamheid sal radikaal verander.  Gewaarborg!  Die hele Ou Testament bou op na Jesus se gehoorsaamheid en prestasie.  Ons gehoorsaam nie om regverdiging en lewe van God te ontvang nie.  Ons gehoorsaam ómdat ons regverdiging en lewe in Jesus ontvang het!

1 comment: