Monday, 2 November 2015

DIE LIEFDE IS…



“God is liefde” (1 Joh. 4:8). Hy hoef nie te probeer om liefdevol te wees nie.  Hy is wat Hy is.

“Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie,  handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie,  is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid.  Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” 1 Kor. 13:4-7  

Let baie mooi op hoe hierdie evangelie-liefde beskryf word in 1 Korinthiërs 13.  Paulus sê nié die liefde moet lankmoedig, vriendelik, ensovoorts wees nie.  Hy sê dit ís lankmoedig en vriendelik.  Dit is nie ‘n lys van kenmerke van die liefde wat ons moet probeer bereik nie.  Dit is iets wat ons of het of nie het nie (sien verse 1 tot 3).  Dit is ‘n “state of being”, ‘n geloofsingesteldheid.  Wanneer die siel van ‘n dissipel van Jesus so geposisioneer is in geloof dat dit die heerlikheid van Jesus aanskou (2 Kor. 3:18), in plaas van die self, vloei die liefde van God in Christus spontaan uit ons uit op verskillende maniere na die eis van die situasie.  

Die liefde is…!  Die liefde streef nie om te wees nie.  Ons stryd as dissipels van Jesus is nie om liefde te probeer produseer nie, maar om te glo dat Christus in ons alles is wat ons nodig het vir hierdie lewe en die volgende.  Ons stryd is ‘n geloofstryd.  Geen hoeveelheid tyd of godsdiensywer kan menslike liefde bring op die vlak van die evangelie-liefde van 1 Korinthiërs 13 nie.  Daardie liefde is algeheel Goddelik en dit ís wat dit ís.  Dit kan net in geloof ontvang word van Jesus en dan uitdrukking vind in ons daaglikse lewens.  Dit kan nooit ooit geproduseer word nie.

8 comments: