Wednesday, 27 January 2016

DISSIPELS VAN MENSE



“En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.”  Johannes 8:12 
Hoekom is dit dat so baie mense wat hulleself vandag Christene noem geestelik in die donker rond tas en so maklik verward raak en net eenvoudig saamgaan met die “winde van lering” wat hele gemeentes in ons tyd op ‘n dwaalspoor neem?  In Johannes 8 sê Jesus met absolute outoriteit die wat Hom volg “sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie”.  Die frase wat ons maklik kan mis hier, omdat ons dink dit is ‘n gegewe, is “wie My volg”.  Om Jesus te volg beteken dat my lojaliteit bo alles en almal by Jesus en Sy Woord is.  Al sou almal rondom my wegval, moet ek kan staan onder die Here se heerskappy.  Dit kan net gebeur as ek ‘n intieme, persoonlike verhouding met Hom het en as daardie verhouding my mees kosbare kleinood is.  Miskien is dit omdat ons generasie derduisende dissipels van kerke en kerkleiers maak, in plaas van dissipels van Jesus, dat daar soveel kompromie en afvalligheid is.  Hê respek vir goddelike en Bybelse leierskap, maar moenie dissipels van mense word nie.  Dan bou jy op stof.  Bou eerder op die Rots wat vir ewig sal bly staan, Jesus Christus.

Monday, 25 January 2016

WAT IS EFFEKTIEWE BEDIENING IN ‘N GEMEENTE?





“Ek wil hê julle moet weet hoe sterk ek my beywer vir julle en vir die gelowiges in Laodisea en vir al die ander wat my ook nog nie persoonlik gesien het nie.  My doel daarmee is dat hulle bemoedig moet word. Hulle moet met liefde aan mekaar verbind wees en saam strewe na diep en volledige insig, sodat hulle God se geheimenis kan ken. Die geheimenis is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind.” Kolossense 2:1-3 (NAV)

In Mattheus 28 vers 19 het Jesus vir Sy apostels die opdrag gegee om dissipels van al die nasies te maak, hulle te doop en hulle dan te leer.  Dissipels van wie?  Dissipels van Jesus, nie van hulleself nie.  Effektiewe bediening in ‘n gemeente het alles te doen met ware dissipelskap.  Dit is net wanneer mense persoonlik met Jesus begin wandel en Sy stem duidelik vir hulleself begin hoor in die Bybel en gehoorsaam raak daaraan dat ons kan praat van effektiewe bediening.  Dit gebeur so maklik dat ons, ons eie standaarde van effektiwiteit stel in ‘n gemeente en onsself flous dat dissipelskap plaasvind terwyl ons eintlik maar net mense lojaal probeer hou aan ‘n godsdienstige organisasie en hulle betrokke hou by ons programme.  So begin “meet ons mekaar aan ons eie maatstaf” (2 Kor. 10:12) en vergelyk onsself met mekaar in plaas van aan die standaard van dissipelskap in die Nuwe Testament.  Paulus het sonder om doekies om te draai gesê sy doel is om mense te onderrig en leer aangaande Christus om hulle sodoende te bring tot “geestelike volwassenheid in Christus” (Kol. 1:28).  Waarvoor mik ons in ons gemeentes?  Dalk om meer mense op ‘n Sondag in ‘n gebou bymekaar te kry?  Dit is nie die Bybel se definisie van effektiewe bediening nie.

Wednesday, 20 January 2016

GOD SE WIL IS SO NA AAN JOU SOOS JOU EIE HART!




“En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Romeine 12:2 (OAV)

Regdeur die Bybel gee God vir ons die versekering dat Hy Homself aan ons sal bekend maak as ons met geloof en 'n rein hart nader tot Hom. Waarskynlik die grootste rede hoekom ons verward raak oor God se wil is omdat ons nie eers ons eie wêreldse idees, en begeerlikhede in baie gevalle, wil laat staan en toelaat dat Sy Woord inspreek in ons lewens nie. Na die mate wat ek my hart blootstel aan die besoedeling en verdraaide filosofieë van die wêreld sal ek verwarring beleef oor God se wil in my lewe.  As ek aanhoudend hande vol grond in ‘n helder poel water gooi, sal ek later nie meer kan sien wat aangaan in die poel nie. Skuif eers al jou eie idees oor 'n saak eenkant toe en neem nou die Bybel op met 'n kinderlike geloof en afhanklikheid. God belowe dat Hy dan van binne af 'n transformasie sal laat plaasvind wat Sy wil helder en duidelik in jou eie hart sal laat kristalliseer.  Lees die volgende twee parafrases van Romeine 12 vers 2 om meer duidelikheid te kry oor hierdie kosbare belofte van God.

“Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is.” Rom. 12:2 (NLV) 

“Moenie tuis raak in hierdie wêreld met al sy boosheid nie. Nee, laat God julle van binne af nuutmaak. Laat Hy julle manier van dink verander sodat julle kan weet wat Hy van julle verwag. Dan sal julle ook weet wat sy wil is en hoe julle julle hele lewe elke dag aan Hom moet oorgee.” Rom. 12:2 (DB)

Monday, 18 January 2016

DIE VOLWASSENHEID WAT JESUS IN ONS SOEK



Geestelike volwassenheid is nie volmaaktheid of superieure kennis of begaafdheid nie.  Dit is nie eers noodwendig die volkome ontwikkeling van my gawes of ’n bedieningsvaardigheid en ervaring wat ander beïndruk nie.  Dit is nie ‘n kompetisie met ander mense om bo hulle uit te styg en die reg te verkry om onder hulle die erkende gesag te wees nie. Dit is nie die eksklusiewe domein van die een onder ons met die diepste openbaring nie.  Dit is nie nét die insig en onderskeiding om dwaling raak te sien en dit te ontbloot selfs wanneer duisende dit omhels en vir soetkoek opeet nie.  

Geestelike volwassenheid word in my gevorm wanneer ek begin rus in die vaste wete dat Jesus na my omsien terwyl ek myself gee vir ander mense se heil, verlossing en geestelike groei.  Dit is ‘n wegkyk van myself en ‘n raaksien van die swakkes, die verwardes, die misleides en die behoeftiges.  Dit is om te volg in die voetspore van die Een wat gesê het” die Seun van die mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien…” (Matt. 20:28).  Dit is eers wanneer hierdie diensbaarheid van Jesus in my gevorm is dat my kennis, gawes, openbaringe, insig en ervaring werklik bruikbaar word in die hande van God.

“En op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie.”  Romeine 15:1 

Wednesday, 13 January 2016

DIE STEM IN DIE STILTE



Stilte is nie net die afwesigheid van aktiwiteit en geraas nie.  Stilte is ‘n geloofshouding voor God wat in aanbidding en met ontsag wag op Sy stem om innerlik tot ons deur te dring.

“En nadat Hy die skare weggestuur het, klim Hy op die berg om in die eensaamheid te bid. En toe dit aand geword het, was Hy daar alleen.”  Mattheüs 14:23  

“Want God spreek op een, ja, op twee maniere; maar die mens let daar nie op nie.”  Job 33:14  

Jesus het ononderbroke kontak met sy Vader gehad in die tyd wat Hy op aarde geleef het.  Tog moes Jesus self tye hê van stilte om “in eensaamheid te bid”.  Die Vader het baie dinge wat Hy persoonlik onder ons aandag wil bring, maar luister ons regtig?  Gee ons vir Hom tyd in die Woord en gebed om kontak te maak met ons harte?  Dit is verstommend hoe maklik mense vandag sê hulle weet nie hoe om God se stem te hoor nie en nie dink daaraan dat God nie kans gegun word om te praat nie!  As Jesus tye van stilte en alleenwees nodig gehad het, het ons dit dan nie ook dringend nodig nie?  

Dit is in die tye van uiterlike stilte en alleenwees wat ons die innerlike stilte die beste kultiveer.  Kan ons generasie nog alleen wees en stil wees of is ons dalk verslaaf aan aktiwiteite met ‘n klomp mense rondom ons of iewers ‘n elektroniese geblêr in ons ore?  Ware koninkryksaktiwiteit kom net uit intimiteit met God en intimiteit met God verg tye van stilwees en alleenwees.  Máák tyd om stil te wees, selfs al doen niemand rondom jou dit nie.  Skakel ‘n slag daai televisie en radio af, en vir die heel braafstes onder ons, sit jou selfoon af!  God wag om met jou te praat.  Aanvanklik kan die stilte ‘n skok vir jou sisteem wees, maar volhard daarin en jy sal die lieflike vrug van God se teenwoordigheid begin pluk en leer om innerlik gefokus te wees op die stem van die Vader.