Geestelike volwassenheid is nie volmaaktheid of superieure
kennis of begaafdheid nie. Dit is nie eers
noodwendig die volkome ontwikkeling van my gawes of ’n bedieningsvaardigheid en
ervaring wat ander beïndruk nie. Dit is
nie ‘n kompetisie met ander mense om bo hulle uit te styg en die reg te verkry
om onder hulle die erkende gesag te wees nie. Dit is nie die eksklusiewe domein
van die een onder ons met die diepste openbaring nie. Dit is nie nét die insig en onderskeiding om
dwaling raak te sien en dit te ontbloot selfs wanneer duisende dit omhels en
vir soetkoek opeet nie.
Geestelike volwassenheid word in my gevorm wanneer ek begin
rus in die vaste wete dat Jesus na my omsien terwyl ek myself gee vir ander
mense se heil, verlossing en geestelike groei.
Dit is ‘n wegkyk van myself en ‘n raaksien van die swakkes, die
verwardes, die misleides en die behoeftiges.
Dit is om te volg in die voetspore van die Een wat gesê het” die Seun
van die mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien…” (Matt.
20:28). Dit is eers wanneer hierdie
diensbaarheid van Jesus in my gevorm is dat my kennis, gawes, openbaringe, insig
en ervaring werklik bruikbaar word in die hande van God.
“En op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede
te dra van die wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie.” Romeine 15:1
No comments:
Post a Comment