“En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar
word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat
die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Romeine 12:2 (OAV)
Regdeur die Bybel gee God vir ons die versekering dat Hy
Homself aan ons sal bekend maak as ons met geloof en 'n rein hart nader tot Hom.
Waarskynlik die grootste rede hoekom ons verward raak oor God se wil is omdat
ons nie eers ons eie wêreldse idees, en begeerlikhede in baie gevalle, wil laat
staan en toelaat dat Sy Woord inspreek in ons lewens nie. Na die mate wat ek my
hart blootstel aan die besoedeling en verdraaide filosofieë van die wêreld sal ek verwarring beleef oor God se wil in my lewe. As ek aanhoudend hande vol grond in ‘n helder
poel water gooi, sal ek later nie meer kan sien wat aangaan in die poel nie. Skuif
eers al jou eie idees oor 'n saak eenkant toe en neem nou die Bybel op met 'n
kinderlike geloof en afhanklikheid. God belowe dat Hy dan van binne af 'n
transformasie sal laat plaasvind wat Sy wil helder en duidelik in jou eie hart
sal laat kristalliseer. Lees die
volgende twee parafrases van Romeine 12 vers 2 om meer duidelikheid te kry oor
hierdie kosbare belofte van God.
“Moenie julle
leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God
julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan
onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en
aanvaarbaar en volmaak is.” Rom. 12:2 (NLV)
“Moenie tuis raak
in hierdie wêreld met al sy boosheid nie. Nee, laat God julle van binne af
nuutmaak. Laat Hy julle manier van dink verander sodat julle kan weet wat Hy
van julle verwag. Dan sal julle ook weet wat sy wil is en hoe julle julle hele
lewe elke dag aan Hom moet oorgee.” Rom. 12:2 (DB)
No comments:
Post a Comment