"En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy
broer leer en sê: Ken die Here nie; want almal sal My ken, klein en groot onder
hulle." Hebreërs 8:11
'n Wedergebore dissipel van Jesus het 'n inwonende leraar
wat die Vader se stem vir hom as't ware hoorbaar maak wanneer hy die Bybel
lees. Die openbaring van Christus en die gemeente in die Nuwe Testament
ontsluit vir ons die plan van God vir ons lewens sodat ons nie nodig het om
verward te wees of in die donker rond te tas op soek na waarheid nie. Die
bedieninge van Efesiërs 4 vers 11 is deur God geplaas in die liggaam van
Christus om die heerlikheid van die nuwe verbond so tasbaar te maak vir
dissipels dat die Bybel 'n persoonlike avontuur word vir elkeen van ons. Dit
was nooit bedoel om ons eie lees van die Bybel en persoonlike hoor van die
Vader se stem te vervang nie!
God wil jou direk en persoonlik lei deur jou eie
hantering van die Bybel. Dit is waarvoor Jesus Sy kosbare bloed gestort het.
Daai Bybels wat so stof opgaar in ons huise sal 'n getuienis téén ons word as
ons dit nie daagliks begin optel en lees met die geloof dat God persoonlik met
ons wil praat nie.
No comments:
Post a Comment