Monday, 29 February 2016

OM CHRISTUS AS WINS TE VERKRY

“Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag.  Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry.” Filippense 3:7-8 


Die dag toe Paulus Jesus op die pad na Damaskus ontmoet het, het hy alles wat hy so hard voor gewerk het tot op daardie oomblik in sy lewe; naamlik roem, eer, erkenning in die akademies-teologiese wêreld en sy ereplek in terme van sy Joodse geslagsregister opgegee.  Hy het dit gedoen omdat hy in ‘n verbysterend-intense oomblik van Goddelike openbaring Jesus in sy heerlikheid gesien het.  Paulus het in die dae en weke daarna besef dat hy nie kon vashou aan ‘n aardse identiteit en al die voordele daaraan verbonde en terselfdertyd groei in die kennis van Christus in sy heerlikheid nie.  Hy het nie wedergeboorte gesien as ‘n blote kaartjie hemel toe nie, maar as die deur na ‘n lewe waar God ons voortdurend dieper wil inlei in die kennis van Sy Seun.  Wat het ek en jy al opgegee en as “drek beskou” om te groei in die kennis van Christus en om Hom “as wins te verkry”?  Mag die Heilige Gees ons harte verlig en ons intrek in die soort toewyding aan Jesus wat Paulus hier van praat.  Dit is nie net bedoel vir spesiale super-geestelikes of apostels nie.  Dit is die roeping en wil van God vir elke dissipel van Jesus. 

Wednesday, 24 February 2016

EVANGELIE-KRAG VIR ELKE DAG

"WANT ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek." Romeine 1:16

Die evangelie van Jesus Christus bring vergifnis, geregtigheid en nuwe lewe vir elkeen wat dit glo en hulle volle vertroue plaas in Jesus en Sy volmaakte werk van verlossing.   Die evangelie is ryk en omvattend, maar vir een of ander rede het ons iewers in die kerk se geskiedenis begin glo dat dit net bedoel is om ons by redding te bring en daarna moet ons aanbeweeg na ander prioriteite en onderwerpe. Dit is 'n fatale denkfout. Die evangelie maak nie net regverdig nie, dit maak ook heilig en dit is ons enigste hoop op die heerlikheid wat vir ons voorlê.


Die evangelie gaan oor die Persoon en Werk van Jesus en dit sluit alles in wat bedoel word met die allesomvattende term "in Christus" in die Nuwe Testament. Daar is geen onderwerp in die Nuwe Testament wat los staan van die evangelie nie. Ons het dringend nodig om terug te keer na 'n  radikale evangelie-gerigtheid. In Jesus is daar evangelie-krag vir elke dag, maar dan moet ons, ons fokus regkry en nie antwoorde soek in allerhande "geestelike" idees wat apart van Jesus definieër en bedink word nie.

Monday, 22 February 2016

VERNUWING IN JESUS VIR DIE WAT LEWENSMOEG IS

“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.”  Mattheüs 11:28  ‘

Hoe verfrissend eenvoudig is hierdie uitkoms wat Jesus gee vir almal wat “vermoeid en belas is”.  Is jy moeg en tam?  Voel jy uitgeput en lewensvoos?  Voel dit of jy altyd te min tyd het en te veel take wat afgehandel moet word?  Is die druk by die werk ondraaglik en dan het jy dalk boonop spanning by die huis?  Slaap jy sleg en dan lê die eise van ‘n nuwe dag soos ‘n massiewe berg voor jou?  Die werksprobleme, verhoudingsprobleme, gesondheidsprobleme, en finansiële probleme hoop net op.  Miskien het jy al allerhande dinge en selfs medikasie probeer om die las te verlig.  Dalk het jy ‘n bietjie verligting beleef, maar die druk van die lewe hou net nie op nie en dit raak alles te veel vir jou. 


As jy ‘n dissipel van Jesus is wat al ‘n tyd met Hom stap, is jy heel moontlik vertroud met ‘n verskeidenheid geestelike antwoorde en oplossings vir jou lewensmoegheid.  Dalk is baie van hierdie antwoorde en oplossings wat aan jou gegee is eintlik maar net sielkundige motiveringsbeginsels met ‘n Christelike sousie oor om dit legitimiteit te gee.  Die Bybel het baie antwoorde vir elke moontlike menslike dilemma en stryd, maar in werklikheid kan al die antwoorde gereduseer word tot een enkele antwoord, Jesus!  Hy self is die antwoord.  Hý is die Weg uit die verwoesting, skuld en skande van sonde, Hý  is die Waarheid wat vrymaak van leuens, misleiding en ‘n duistere verwardheid, Hý  is die Lewe wat ‘n situasie van totale doodsheid in ‘n oomblik kan verander met die opstandingskrag wat deur Hom bruis.  As jy moeg en tam is vandag dan bid ek dat die kragtig-eenvoudige woorde van Jesus, “Kom na My toe”, ‘n weg sal vind deur al jou skanse, teleurstellings en mislukkings en sal deurdring tot binne-in jou hart.  

Dis al.  Net dit.  Kom stort jou hart uit by Hom en lê al jou laste op Hom.  Bely net weer jou liefde en totale oorgawe aan Hom en Hy belowe ongekende rus en vernuwing wat niks of niemand op aarde vir jou kan gee nie.  Hy nooi jóu vandag uit met Sy uitnodiging wat steeds deur al die eeue onveranderd bly staan, “Kom na My toe”.

Wednesday, 17 February 2016

DIE VADER SE VOLMAAKTE PLAN

"Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie..." Johannes 6:63


Dit is net die Gees van God wat lewe kan gee en slegs deur Sy aktiwiteit groei die koninkryk van God op aarde.  Jesus alleen is die deur tot die volheid van die Gees.  Ware geloof in Jesus is 'n onwrikbare oortuiging dat ek nie uit myself die hand van God in beweging kan bring nie.  Die Vader stuur Jesus om die weg voor te berei vir die volle aktiwiteit van die Gees.  Die Gees verheerlik Jesus en bring sodoende die koninkryk binne die bereik van geloof wat weer die deur oopmaak vir verdere aktiwiteit van die Gees.  So groei die koninkryk en op geen ander manier nie.  Mag alle ander planne, programme, menslike idees en misplaaste godsdiensywer geheel en al tot niet gaan, want dit staan net in die pad van God se Meersterplan.

Monday, 15 February 2016

DIE GEMAKLIKE PAD OF DIE KRUISPAD?

“Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.” Mattheüs 16:24 

Daar is net een Leier (alle menslike leiers is ondergeskik aan Hom), net een Here, net een Herder in die Nuwe Testament (Joh. 10:16; Mt. 23:6-12).  Hy deel nie Sy heerskappy met enige mens nie.  God die Vader toets Sy gemeentes en sy mense op hierdie punt dalk meer as in enige ander area.  Hy soek by ons onverdeelde lojaliteit aan Sy Seun.  Geen mens, geen tradisie, geen liefling van die siel mag saam met Jesus staan in die ereplek van onverdeelde lojaliteit in my hart nie.  Die Vader verwag van my en jou om absolute gehoorsaamheid aan Jesus te gee en dit beteken soms dat ek moet kies tussen dit wat populêr is of selfs dit wat dalk ‘n eeue-oue kerktradisie is (let wel dat daar ook iets is soos goeie en Bybelse  tradisies!) en dit wat Jesus van my vra.  Die oomblik wat die lig van die Woord inskyn en God se wil oor iets vir my duidelik maak, is daar altyd ‘n keuse wat ek voor gestel word.  Gaan ek die gemaklike pad van die skares loop of die kruispad van Jesus?


“Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie.  Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God.”  Johannes 12:42-43  

Wednesday, 10 February 2016

DIE OPTIMISME VAN HUMANISME

“As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!”  Mattheüs 7:11 

“Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” Romeine 3:23 

Sekulêre humanisme het ‘n verstommende vermoë om ten spyte van die afgryslike geskiedenis van oorloë, moorde, verkragtings en mens-op-mens geweld steeds te glo dat mense in wese eintlik goed is.  Die sielkunde , sosiologie, politiese ideologie en ander menslike wetenskappe hou aan om te leer dat mense wel in staat is om boos op te tree, maar dat hulle nie werklik boos ís nie.  Daarteenoor leer die Bybel dat álle mense as gevolg van die sondeval in staat is om die mees afgryslike dinge te doen, juis omdat ons ‘n sondige en selfsugtige aard met geboorte ontvang het.  Natuurlik is ons ook in staat om goeie dinge te doen, want almal is steeds ook geskape na die beeld van God.  As ons egter nie op een of ander punt in ons lewens draai teen ons eie sondige aard en ons geloof in Jesus Christus plaas nie sal ons in absolute verlorenheid en wanhoop sterf, selfs met die ywerigste humanistiese optimisme ter wêreld.  Die toenemende “wetteloosheid” van die wêreld waarin ons vandag leef, kan direk by die deur van die optimisme van humanisme gelê word.  God self het wet en orde ingestel in nasies om die bose natuur van mense aan bande te lê en teë te hou.  Wat is egter die punt as ‘n mens wette het sonder ‘n toepaslike straf vir die oortreding daarvan?  Dan is daar geen “vrees” meer vir die gevolge van misdade nie.

“Want hy is ‘n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ‘n dienaar van God, ‘n wreker om die een wat kwaad doen, te straf.” Romeine 13:4 


Ware dissipels van Jesus het met die wedergeboorte ‘n nuwe natuur ontvang en as ons “wandel deur die Gees” het ons oorwinning oor “die vlees” (Gal. 5:16).  Soms wonder ‘n mens egter of die kerk nie ook geval het vir die optimisme van humanisme nie, want baie van wat ons vandag in kerke en denominasies sien is niks meer nie as ‘n optimistiese humanisme ingekleur met Christelike terminologie.  Ons moet terugkeer na God se uitspraak oor die mensdom en die enigste weg tot verlossing uit die aakligheid van universele verdorwenheid, die Here Jesus Christus.

Monday, 8 February 2016

DIE GEVAAR VAN FAMILIARITEIT

"Jy is vir hulle maar net soos iemand wat met 'n mooi stem liedjies vol begeerte sing en die lier goed speel; hulle hoor wat jy sê, maar hulle doen niks van wat jy sê nie. Maar wanneer wat jy sê, uitkom, en uitkom sál dit, sal hulle besef dat daar 'n profeet tussen hulle was.” Esegiël 33:32-33 (NAV)

“Hier kom Esegiël al weer. Ek wonder wat is sy boodskap vir die dag?  So ‘n begeesterde jong man.  En altyd so ernstig.  Maar tog interessant om na sy ietwat oordrewe woorde te luister.  Hy gee die dag ‘n bietjie kleur.”  So kon ‘n tipiese gesprek tussen Esegiël se tydgenote oor sy bediening onder hulle verloop het. 

Honderde jare later het ‘n jong man van Nasaret op ‘n dag in sy tuisdorp se plaaslike sinagoge gedeeltes uit die boek Jesaja gelees en verstommende uitsprake oor die vervulling daarvan gemaak.  In Lukas 4 vers 22 lees ons dat die toehoorders “verwonderd was oor die aangename woorde uit sy mond”.  Maar toe begin hulle vir mekaar te sê: “Is hy dan nie die seun van Josef nie”.  Familiariteit met Jesus het hulle ore toegestop en sodoende het hulle heeltemal uitgemis op die belangrikste dag in die geskiedenis van hulle dorp.  Hulle verlossing het gekom en gegaan, want hulle het nie die gevaar van familiariteit met die woord én die Woord besef nie.


In 1 Petrus 4 vers 11  kry óns die opdrag om so om te gaan met die Bybel en dit vanuit ons hart te spreek dat ons woorde sal wees “soos woorde van God”.  Maar weereens loop ons gevaar om so familiêr te raak met die Bybel en met mekaar dat ons nie die heilige woorde van God ernstig opneem wanneer ons geliefdes of broers en susters in die Here dit met erns en oortuiging spreek nie. Ek en jy het die heerlike voorreg en ook die dringende verantwoordelikheid om die woorde van die Bybel in ons hart in te neem en met mekaar daaroor te praat; om op te wek, te stig, te bemoedig én te waarsku.  Moenie dat familiariteit jou beroof van die impak van die woorde van die ewige God nie.  Dit kan jou baie duur te staan kom aan die einde van die dag.

Wednesday, 3 February 2016

‘N NUWE BEGIN



“Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” 2 Korinthiërs 5:17  

Vir die persoon wat wegdraai van ‘n onafhanklike en ‘n self-gerigte lewe en sy volle vertroue in Christus plaas, is daar nie net vergifnis nie, maar ‘n nuwe lewe, ‘n totaal (totale) nuwe begin. “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Efes. 1:7).  Die man of vrou “in Christus” het volkome kwytskelding van die straf en skuld van sonde ontvang.  Dit op sigself is verstommende goeie nuus, maar “in Christus” het ons meer as net vergifnis ontvang.  Ons het ook ‘n nuwe lewe ontvang deur die wedergeboorte.  Die grootste uitdaging van ons nuwe lewe in Christus is om te leer om die verlede agter te laat, insluitende ons ou manier van dink!  God verwag van ons om te dink oor ons lewe, identiteit en bestemming as nuwe mense.  Ons moet leer om in geloof die “veroudering” van die gevalle skepping af te skud en ons te beklee met die nuutheid en die voortdurende vernuwing wat eie is aan die nuwe skepping in Christus.  Voel jy of jy ‘n nuwe begin nodig het?  Dit is reeds ‘n werklikheid “in Christus”.  Glo dit net.

“Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe.” 2 Kor. 4:16 

Monday, 1 February 2016

DISSIPELS VAN JESUS



“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies…”  Mattheüs 28:19a  

“My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.” Johannes 10:27  

Ons mandaat is eenvoudig; maak mense dissipels van Jesus deur die Woord.  Ons is nie geroep om dissipels van kerkleiers of kerke te maak deur sielkundige en sosiologiese druk en manipulasie of deur kerktradisie nie. Dissipels van Jesus lees self die Bybel en leer so om Sy stem te hoor vir hulle eie lewens.  Dissipels van kerke en kerkleiers lees gewoonlik nie die Bybel vir hulleself nie, of anders baie min daarvan.  Dissipels van Jesus leer om te onderskei tussen die waarheid en dwaling en word nie meegesleur deur elke “wind van lering” wat verbykom nie.  Dissipels van kerke en kerkleiers het nie onderskeidingsvermoë nie en gaan net saam met die stroom wanneer dwaling hulle kerk of denominasie binnedring. Dissipels van Jesus is van die begin af bereid om lering te ontvang van leraars en ander wat meer volwasse as hulle is, maar hulle vind groot vreugde daarin om dan ook self die Bybel te ondersoek m.b.t. wat hulle geleer is (Hand. 17:11). Sodoende groei hulle geestelik en word volwasse in die Here. Dissipels van kerke en kerkleiers word nooit volwasse nie. Hulle het ‘n ongesonde afhanklikheid van ‘n organisasie en die reputasie van menslike leiers wat veroorsaak dat hulle nie self die Bybel lees, bestudeer, ondersoek en leer om Jesus se stem vir hulleself te hoor nie.  Dissipels van Jesus is onwrikbaar lojaal aan Jesus alleen en aan Sy onfeilbare Woord.  Hulle hanteer kerkleiers met respek, maar nie met ‘n onvoorwaardelike lojaliteit wat Jesus se heerskappy in gedrang bring nie.  Dissipels van kerke en kerkleiers leef met ‘n verdeelde lojaliteit (tussen Jesus en hulle kerk/leiers) en kan daarom nie opstaan teen die verkeerde en ‘n profetiese stem wees binne ‘n kerk of denominasie wat die pad byster geraak het nie. Hulle kan nie wanneer dit nodig is, onderskei tussen Jesus se stem en die invloed van hulle kerke en leiers nie. 

Dissipels van Jesus is wedergebore mense wat geestelik een is met Hom (1 Kor. 1:30).  Dissipels van kerke en kerkleiers is in baie gevalle nie eers wedergebore nie.  Hulle het nodig om hulle te bekeer en hulle geloof in Jesus alleen te plaas, nie in ‘n kerk, kerkleiers of kerkdogma nie.  Jesus vereis onverdeelde lojaliteit.  Hy wil nie kompeteer met kerke of leiers vir mense se aandag nie.  Leiers is veronderstel om Hom te verteenwoordig, nie te vervang nie!  Hy roep jou en my om ons volle aandag aan Hom te gee, Sy stem vir onsself te hoor in die Woord, en dit kinderlik te gehoorsaam. Wees ‘n dissipel van Jesus. Dít is die enigste veilige pad en daar is geen groter vreugde nie.