“As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan
julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is,
goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” Mattheüs
7:11
“Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan
die heerlikheid van God.” Romeine 3:23
Sekulêre humanisme het ‘n verstommende vermoë om
ten spyte van die afgryslike geskiedenis van oorloë, moorde, verkragtings en
mens-op-mens geweld steeds te glo dat mense in wese eintlik goed is. Die sielkunde , sosiologie, politiese
ideologie en ander menslike wetenskappe hou aan om te leer dat mense wel in
staat is om boos op te tree, maar dat hulle nie werklik boos ís nie. Daarteenoor leer die Bybel dat álle mense as gevolg van die sondeval in staat is om die mees afgryslike
dinge te doen, juis omdat ons ‘n sondige en selfsugtige aard met geboorte
ontvang het. Natuurlik is ons ook in
staat om goeie dinge te doen, want almal is steeds ook geskape na die beeld van
God. As ons egter nie op een of ander
punt in ons lewens draai teen ons eie sondige aard en ons geloof in Jesus
Christus plaas nie sal ons in absolute verlorenheid en wanhoop sterf, selfs met
die ywerigste humanistiese optimisme ter wêreld. Die toenemende “wetteloosheid” van die wêreld
waarin ons vandag leef, kan direk by die deur van die optimisme van humanisme
gelê word. God self het wet en orde
ingestel in nasies om die bose natuur van mense aan bande te lê en teë te
hou. Wat is egter die punt as ‘n mens
wette het sonder ‘n toepaslike straf vir die oortreding daarvan? Dan is daar geen “vrees” meer vir die gevolge
van misdade nie.
“Want hy is ‘n
dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra
die swaard nie verniet nie, want hy is ‘n dienaar van God, ‘n wreker om die een
wat kwaad doen, te straf.” Romeine 13:4
Ware dissipels van Jesus het met die wedergeboorte ‘n
nuwe natuur ontvang en as ons “wandel deur die Gees” het ons oorwinning oor “die
vlees” (Gal. 5:16). Soms wonder ‘n mens egter
of die kerk nie ook geval het vir die optimisme van humanisme nie, want baie
van wat ons vandag in kerke en denominasies sien is niks meer nie as ‘n
optimistiese humanisme ingekleur met Christelike terminologie. Ons moet terugkeer na God se uitspraak oor
die mensdom en die enigste weg tot verlossing uit die aakligheid van universele
verdorwenheid, die Here Jesus Christus.
No comments:
Post a Comment