“Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy
homself verloën en sy kruis opneem en My volg.” Mattheüs 16:24
Daar is net een Leier (alle menslike
leiers is ondergeskik aan Hom), net een Here, net een Herder in die Nuwe
Testament (Joh. 10:16; Mt. 23:6-12). Hy
deel nie Sy heerskappy met enige mens nie. God die Vader toets Sy gemeentes en sy mense
op hierdie punt dalk meer as in enige ander area. Hy soek by ons onverdeelde lojaliteit aan Sy
Seun. Geen mens, geen tradisie, geen
liefling van die siel mag saam met Jesus staan in die ereplek van onverdeelde
lojaliteit in my hart nie. Die Vader
verwag van my en jou om absolute gehoorsaamheid aan Jesus te gee en dit beteken
soms dat ek moet kies tussen dit wat populêr is of selfs dit wat dalk ‘n
eeue-oue kerktradisie is (let wel dat daar ook iets is soos goeie en Bybelse tradisies!) en dit wat Jesus van my vra. Die oomblik wat die lig van die Woord inskyn
en God se wil oor iets vir my duidelik maak, is daar altyd ‘n keuse wat ek voor
gestel word. Gaan ek die gemaklike pad
van die skares loop of die kruispad van Jesus?
“Maar tog het selfs baie van die
owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely
nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie.
Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God.” Johannes
12:42-43
No comments:
Post a Comment