“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies…” Mattheüs 28:19a
“My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg
My.” Johannes 10:27
Ons mandaat is eenvoudig; maak mense dissipels van Jesus deur
die Woord. Ons is nie geroep om
dissipels van kerkleiers of kerke te maak deur sielkundige en sosiologiese druk
en manipulasie of deur kerktradisie nie. Dissipels van Jesus lees self die
Bybel en leer so om Sy stem te hoor vir hulle eie lewens. Dissipels van kerke en kerkleiers lees gewoonlik
nie die Bybel vir hulleself nie, of anders baie min daarvan. Dissipels van Jesus leer om te onderskei
tussen die waarheid en dwaling en word nie meegesleur deur elke “wind van
lering” wat verbykom nie. Dissipels van
kerke en kerkleiers het nie onderskeidingsvermoë nie en gaan net saam met die stroom
wanneer dwaling hulle kerk of denominasie binnedring. Dissipels van Jesus is van
die begin af bereid om lering te ontvang van leraars en ander wat meer volwasse
as hulle is, maar hulle vind groot vreugde daarin om dan ook self die Bybel te
ondersoek m.b.t. wat hulle geleer is (Hand. 17:11). Sodoende groei hulle
geestelik en word volwasse in die Here. Dissipels van kerke en kerkleiers word
nooit volwasse nie. Hulle het ‘n ongesonde afhanklikheid van ‘n organisasie en
die reputasie van menslike leiers wat veroorsaak dat hulle nie self die Bybel lees,
bestudeer, ondersoek en leer om Jesus se stem vir hulleself te hoor nie. Dissipels van Jesus is onwrikbaar lojaal aan
Jesus alleen en aan Sy onfeilbare Woord.
Hulle hanteer kerkleiers met respek, maar nie met ‘n onvoorwaardelike
lojaliteit wat Jesus se heerskappy in gedrang bring nie. Dissipels van kerke en kerkleiers leef met ‘n
verdeelde lojaliteit (tussen Jesus en hulle kerk/leiers) en kan daarom nie
opstaan teen die verkeerde en ‘n profetiese stem wees binne ‘n kerk of
denominasie wat die pad byster geraak het nie. Hulle kan nie wanneer dit nodig
is, onderskei tussen Jesus se stem en die invloed van hulle kerke en leiers
nie.
Dissipels van Jesus is wedergebore mense wat geestelik een
is met Hom (1 Kor. 1:30). Dissipels van
kerke en kerkleiers is in baie gevalle nie eers wedergebore nie. Hulle het nodig om hulle te bekeer en hulle
geloof in Jesus alleen te plaas, nie in ‘n kerk, kerkleiers of kerkdogma
nie. Jesus vereis onverdeelde lojaliteit. Hy wil nie kompeteer met kerke of leiers vir mense
se aandag nie. Leiers is veronderstel om
Hom te verteenwoordig, nie te vervang nie!
Hy roep jou en my om ons volle aandag aan Hom te gee, Sy stem vir
onsself te hoor in die Woord, en dit kinderlik te gehoorsaam. Wees ‘n dissipel
van Jesus. Dít is die enigste veilige pad en daar is geen groter vreugde nie.
No comments:
Post a Comment