“Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus
wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook
alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here,
ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins
te verkry.” Filippense 3:7-8
Die dag toe Paulus Jesus op die pad na Damaskus
ontmoet het, het hy alles wat hy so hard voor gewerk het tot op daardie oomblik
in sy lewe; naamlik roem, eer, erkenning in die akademies-teologiese wêreld en
sy ereplek in terme van sy Joodse geslagsregister opgegee. Hy het dit gedoen omdat hy in ‘n
verbysterend-intense oomblik van Goddelike openbaring Jesus in sy heerlikheid
gesien het. Paulus het in die dae en
weke daarna besef dat hy nie kon vashou aan ‘n aardse identiteit en al die
voordele daaraan verbonde en terselfdertyd groei in die kennis van Christus in
sy heerlikheid nie. Hy het nie
wedergeboorte gesien as ‘n blote kaartjie hemel toe nie, maar as die deur na ‘n
lewe waar God ons voortdurend dieper wil inlei in die kennis van Sy Seun. Wat het ek en jy al opgegee en as “drek
beskou” om te groei in die kennis van Christus en om Hom “as wins te verkry”? Mag die Heilige Gees ons harte verlig en ons intrek
in die soort toewyding aan Jesus wat Paulus hier van praat. Dit is nie net bedoel vir spesiale
super-geestelikes of apostels nie. Dit
is die roeping en wil van God vir elke dissipel van Jesus.
No comments:
Post a Comment