"Jy is vir
hulle maar net soos iemand wat met 'n mooi stem liedjies vol begeerte sing en
die lier goed speel; hulle hoor wat jy sê, maar hulle doen niks van wat jy sê
nie. Maar wanneer wat jy sê, uitkom, en uitkom sál dit, sal hulle besef dat
daar 'n profeet tussen hulle was.” Esegiël 33:32-33 (NAV)
“Hier kom Esegiël al weer. Ek wonder wat is sy
boodskap vir die dag? So ‘n begeesterde
jong man. En altyd so ernstig. Maar tog interessant om na sy ietwat oordrewe
woorde te luister. Hy gee die dag ‘n bietjie
kleur.” So kon ‘n tipiese gesprek tussen
Esegiël se tydgenote oor sy bediening onder hulle verloop het.
Honderde jare later het ‘n jong man van Nasaret op ‘n
dag in sy tuisdorp se plaaslike sinagoge gedeeltes uit die boek Jesaja gelees
en verstommende uitsprake oor die vervulling daarvan gemaak. In Lukas 4 vers 22 lees ons dat die
toehoorders “verwonderd was oor die aangename woorde uit sy mond”. Maar toe begin hulle vir mekaar te sê: “Is hy
dan nie die seun van Josef nie”. Familiariteit
met Jesus het hulle ore toegestop en sodoende het hulle heeltemal uitgemis op
die belangrikste dag in die geskiedenis van hulle dorp. Hulle verlossing het gekom en gegaan, want
hulle het nie die gevaar van familiariteit met die woord én die Woord besef
nie.
In 1 Petrus 4 vers 11 kry óns die opdrag om so om te gaan met die
Bybel en dit vanuit ons hart te spreek dat ons woorde sal wees “soos woorde van
God”. Maar weereens loop ons gevaar om
so familiêr te raak met die Bybel en met mekaar dat ons nie die heilige woorde
van God ernstig opneem wanneer ons geliefdes of broers en susters in die Here dit
met erns en oortuiging spreek nie. Ek en jy het die heerlike voorreg en ook die
dringende verantwoordelikheid om die woorde van die Bybel in ons hart in te
neem en met mekaar daaroor te praat; om op te wek, te stig, te bemoedig én te
waarsku. Moenie dat familiariteit jou
beroof van die impak van die woorde van die ewige God nie. Dit kan jou baie duur te staan kom aan die
einde van die dag.
No comments:
Post a Comment