Monday, 28 March 2016

LOJALITEIT AAN JESUS ALLEEN

“Sodat julle die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheerlik.” Romeine 15:6 

Wanneer daar verskille is in leringe en verskille in begrip tussen gelowiges en gemeentes, laat ons begin waar God begin: by Sy Seun! Maak seker dat jy met alles wat in jou is “onse Here Jesus Christus” in sy volheid omhels en Hom in alles eerste stel, en die Heilige Gees sal jou sekerlik lei in die volle waarheid en jou help om saam met ander dissipels van Jesus die Vader te verheerlik. Verdeelde lojaliteite is ’n baie ernstige saak. Onderwerp jou onvoorwaardelik aan Jesus en aan sy Woord en maak seker jou lojaliteit lê dáár en nie by mensetradisies, denominasionele dogmas of watter ander saak ook al wedywer om sy Heerskappy in jou lewe nie. Sodoende sal Hy jou lei op die pad van ware geestelike insig, seën en vrugbaarheid tot uitbreiding van sy koninkryk. Gaan dink ’n bietjie na oor die volgende verse en die praktiese toepassing daarvan.

“Ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.”  1 Korinthiërs 1:10


“As daar dan enige troos in Christus is, as daar enige vertroosting van die liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming is, maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin.”  Filippense 2:1-2

No comments:

Post a Comment