“En
Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy
kruis elke dag opneem en My volg.” Lukas 9:23
Is
dit volgens die Bybel enigsins moontlik om vergewe en wedergebore te wees, maar
terselfdertyd nie ‘n dissipel van Jesus te wees nie? Wat sou jou reaksie wees as iemand vir jou sê
“ek is wedergebore, maar ek is nog nie ‘n dissipel van Jesus nie”? Is dissipelskap soos ‘n selfoon wat jy kan opgradeer
met nuwe sagteware? Is dit ‘n
selfoonkontrak wat jou beweeg van vergifnis en wedergeboorte na dissipelskap
wanneer jy opgradeer?
Met
die wedergeboorte ontvang ons ‘n nuwe lewe in Christus en daardie lewe is per
definisie ‘n lewe van dissipelskap en gehoorsaamheid. Christus self word ons lewe (Kol. 3:4) en Sy
lewe is een van gehoorsaamheid aan die Vader.
Die lewe van Christus in ‘n wedergebore persoon draai gedurig sy of haar
hart in die rigting van gehoorsaamheid.
“Want nadat Hy tevore gesê het: Dit is die verbond
wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die
Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit
inskrywe.” Hebreërs 10:16
Die
geloofslewe is daarom niks minder nie as ‘n “uitwerk” van die heilige impulse
van Christus wat die Gees ín ons bewerk (Fil. 2:12-13). Alles wat Jesus dus in die evangelies oor
dissipelskap gesê het word toenemend ‘n werklikheid vir die wedergebore
persoon. Die slotsom is eenvoudig dit: Daar bestaan nie volgens die Bybel iets soos
‘n vergeefde en wederbaarde persoon wat nie die pad van dissipelskap stap
nie. Al is dit ook klein en geringe
verbeterings; die mens wat waarlik wedergebore is, sál altyd ‘n begeerte hê na
heiligheid en gehoorsaamheid. Vir
diegene wat vergifnis soek sonder bekering en wegdraai van ‘n ongehoorsame lewe
het die Bybel net slegte nuus. Vir die
wat weet hoe verlore hulle is en hoe afhanklik van God (Matt. 5:3) en wat
gevolglik vir Jesus aangryp en volg met alles wat in hulle is, is daar heerlike,
verlossende en bevrydende goeie nuus!
Nie net skenk God aan hulle vergifnis nie, maar ook die lewe van
Christus in die wedergeboorte wat die krag tot heiliging en ware dissipelskap
binne-in hulle word.
No comments:
Post a Comment