Jesus
is die groot Oorwinnaar van die Koninkryk.
Hy het oorwin deur Sy gehoorsaamheid “tot die dood toe, ja, die dood van
die kruis” (Fil. 2:8). Hy het “die
wêreld oorwin” (Joh. 16:33) deur alles wat die satan hom mee wou versoek teë te
staan en die Vader se wil te kies in elke situasie waarmee Hy gekonfronteer
is. Hy het getriomfeer oor die sonde,
die dood en die graf. Hy het opgestaan
uit die dode en Hy het “die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die
openbaar tentoongestel” (Kol. 2:15).
In
Openbaring 2 en 3 roep Jesus egter keer op keer die heiliges in Sy gemeentes op
om te oorwin: “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.
Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in
die paradys van God is” (Openbaring 2:7).
Hierdie oproep word telkens gerig aan elkeen van die sewe gemeentes wat
Jesus aanspreek in die boek Openbaring. Maar
die vraag is, hoe moet ons oorwin? Dit
is uiters belangrik om te verstaan dat Jesus baie meer vir ons is as net ‘n
voorbeeld van oorwinning. Hy ís ons
oorwinning. Ons oorwin in die Oorwinnaar. Dit is net deur in Hom te bly (Joh. 15:5),
d.w.s. in Sý oorwinning, in Sý gehoorsaamheid, in Sý dood en opstanding, dat
ons kan oorwin. Ons oorwin nie deur ons
eie vasberadenheid of wilskrag nie. Die
oorwinning wat ons opgeroep word om in te leef, is ‘n geloofsoorwinning. Ons glo in die krag en oorwinning van
Christus wat nou in ons leef en dít, dit alleen, is die oorwinning. Die oorwinning is Sy liefde, Sy krag, Sy
wysheid, Sy sagmoedigheid in ons wat
in geloof deur ons sigbaar word.
“Julle
is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter
is as hy wat in die wêreld is.” 1 Johannes 4:4
No comments:
Post a Comment