Wednesday, 30 March 2016

DIE WARE WOLWE TEEN WIE ONS MOET WAAK

"Ek weet dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie. Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei."  Handelinge 20:29-30

Die satan kom soos 'n engel van die lig (2 Kor. 11:14). Sy misleiding is subtiel. Sy misleiding is dikwels binne-in gemeentes, onder die kudde, deur dit wat so 'normaal en liefdevol' voorkom. Paulus se bediening is by uitstek 'n voorbeeld van die veilige benadering wat ons waaksaam en weerbaar kan maak teen hierdie gevaarlike misleidings. Paulus was 'n geroepe apostel en 'n baie sterk leier, maar ten alle tye het hy sy uiterste bes gedoen om mense dissipels van Jesus te maak, nie van homself nie.  Tog is Paulus in sy eie tyd gedurig aangeval deur leiers wat gepoog het om gelowiges onder hulle eie invloed te hou, terwyl hulle óók die naam van Jesus gebruik het, let wel!

Hulle het waarskynlik vir Paulus 'n wolf genoem wat gelowiges voor versigtig moet wees. Maar wie was die ware wolwe? Leiers wat hulle lewe gee om mense ware dissipels van Jesus te maak wat aan Hom alleen lojaal is, is nie die wolwe nie. Die wolwe is die leiers wat subtiel gelowiges se lojaliteit verdeel tussen Jesus en hulleself, kerke, tradisies, en historiese figure. Wees wakker, alles is nie soos dit voorkom in hierdie lewe nie. Onderskei vir jouself of leiers en kerke werklik mense dissipels van Jesus maak en of hulle hul dissipels van hulleself maak.  Daar is iets soos lojaliteit aan die mense saam met wie ek 'n pad stap en respek vir leierskap, maar daardie lojaliteit en leierskap is áltyd ondergeskik aan my eksklusiewe en radikale lojaliteit aan Jesus alleen.


Hou ook net in gedagte dat daar onkunde by sekere leiers kan wees, omdat hulle dalk self geskool is in 'n sisteem wat mense dissipels van ander mense en van kerke maak en nie van beter weet nie. Dit beteken dan egter nie dat ons nie reguit kan praat met sulke leiers en kan toets waar hulle in werklikheid staan nie. Dit is nie opsioneel nie. Dit is ons elkeen se verantwoordelikheid.

No comments:

Post a Comment