Alle wedergebore mense het reeds vrede met God op grond van regverdigmaking
deur die geloof (Rom. 5:1). Nie almal
leef egter met die vrede van God in
hulle binneste as ‘n daaglikse werklikheid nie.
“Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n
Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem:
Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors— tot vermeerdering van die heerskappy en tot
vrede sonder einde, op die troon van
Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en
deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die
leërskare sal dit doen.” Jesaja 9:5-6
Die “gawe van
geregtigheid” (Rom. 5:17) is bedoel om ‘n heerskappy van vrede in ons lewens te
vestig wat radikale implikasies het vir alle aspekte van ons bestaan op
aarde. Hierdie vrede vorm die basis van ‘n
lewe van oorwinning. Hierdie vrede maak
dit moontlik vir jou om God se stem binne-in die storms van die lewe te
hoor. Hierdie vrede maak dit ook
moontlik om vrede te hou met ander gelowiges.
Hierdie vrede is anders as die wêreld se vrede, want dit is geensins
afhanklik van omstandighede nie (Joh. 14:27).
Hierdie vrede is baie
dieper as enigiets wat vandag beskikbaar is by die apteek of die
drankwinkel. Hierdie vrede is ten volle
toeganklik vir jou, want dit is joune “in Christus”. Om die waarheid te sê dit is Jesus se eie
vrede wat Hy vir jou beskikbaar stel. Hy
begeer om dit vandag nog vir jou te laat ervaar as ‘n blywende
werklikheid. Rus net in Hom. Gee net oor.
Jy is in elk geval nie in beheer nie, God is. Klink dit te eenvoudig? Dit is nie, dit is ingesluit in die goeie
nuus van die evangelie en dit is jou erfdeel in Christus!
“Vrede laat Ek vir julle na, my vrede
gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle
hart nie ontsteld word en bang wees nie.” Johannes 14:27
No comments:
Post a Comment