Die doel van die evangelie is die vorming van Christus in ons (Gal.
4:19) sodat die karakter van God kenmerkend kan word van ons lewe op aarde
(Joh. 13:35). Goddelike, bonatuurlike “liefde
uit ‘n rein hart” (1 Tim. 1:5) is bedoel om die eindpunt te wees van alle geestelike
lering en instruksie. Dít is die
transformasie (2 Kor. 3:2-3) van individue en gemeenskappe wat die Nuwe
Testament oor en oor op soveel verskillende maniere vir ons probeer tuisbring.
In hierdie proses is genade die hartklop en geregtigheid in Christus die
kragtige brandstof wat volwassenheid bevorder en God se karakter in ons sigbaar
begin maak. Op die pad na volwassenheid
is daar egter twee baie gevaarlike plaasvervangers wat ons so maklik bedrieg en
die idee gee dat ons volwassenheid bereik het.
“En al sou ek die gawe van
profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die
geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek
niks wees nie.” 1 Korinthiërs 13:2
Paulus draai nie doekies om nie.
Hy sê reguit dat gawes van profesie en kragtige geloof leeg en
betekenisloos is as dit nie uit ‘n hart van liefde kom nie. Hy sê selfs dat ‘n
volledige kennis en insig in alle geheimenisse nie ‘n doel op sigself is nie!
Verstommend. In kontras met dinamiese
gawes en ‘n ensiklopediese kennis klink liefde so ordinêr en amper flou, as ons
moet eerlik wees. Maar moenie ‘n fout
maak nie, hierdie baie spesifieke evangelie-liefde is die gevolg van die bonatuurlike
werk van die Heilige Gees in ons harte en is die mees dinamiese ding in die
heelal. Om kennis te versamel en begaafd
te wees sê baie min van my karakter. Die
ware toets vir my greep op die evangelie is of dit my transformeer van ‘n
self-gerigte nemer na ‘n God-gefokuste gewer wat ander mense dien met
bonatuurlike liefde. Hierdie liefde lyk ook dikwels baie anders as die liefde
van die wêreld. Daarom is dit krities belangrik vir dissipels van Jesus om ‘n
baie duidelike prentjie te hê van wat die Bybel beskou as geestelike
volwassenheid. Maak dít jou doel, want
dit is God s’n met alles wat Hy in jou lewe probeer doen.
No comments:
Post a Comment