Hoekom sê God in die Ou Testament dat Hy 'n “ewige
verbond” wil sluit met mense en dat hierdie verbond alles te doen het met 'n
verhouding van genade (Jes. 55:3)? Hoekom begin en eindig Paulus al dertien sy
briewe met betekenisvolle verwysings na die genade van God in Christus? Hoekom
word beide Jesus en die apostels se bedieninge beskryf as bedieninge van genade
(Joh. 1:14; Hand. 4:33)? Hoekom word die evangelie beskryf as 'n getuienis van
die “genade van God" (Hand. 20:24)? Hoekom eindig die Bybel met 'n vers wat genade in
Christus voorhou as die enigste heil van dissipels van Jesus (Openb. 22:21)?
Want net genade kan 'n verlore mens tot redding
bring. Net genade kan 'n mens se lewe verander en toenemend transformasie
bewerkstellig. Net genade kan 'n dissipel van Jesus wat die pad byster geraak
het, herstel en weer oprig. Net genade gee ons oorwinning oor sonde. Net genade
maak van ons mense wat gee en nie net heeltyd wil neem nie. Net genade kan 'n
gemeente verander en maak wat God wil hê dit moet wees. Net genade kan twee
harte wat in konflik is weer versoen. Net genade kan 'n stukkende huwelik
herstel. Net genade lei ons stap vir stap in die weë van die Here. En net
genade sal ons lei tot by ons ewige tuiste waar ons vir altyd die bestendige
genadebewyse van God in sy Seun sal besing.
Genade is daardie misterieuse kwaliteit in die hart
van God wat sy Seun stuur om te sterf vir sondaars en rebelle. Jesus
Christus gee nie net genade nie, Hy ís die genade van God. Genade se appél
is eenvoudig. Hoor en reageer in bekering en geloof.
No comments:
Post a Comment