Wednesday, 27 July 2016

STAAN LANGER STIL BY DIE KRUIS

Ons is almal geneig om eksklusief te wil fokus op die opstandingslewe in Christus en die voordele daarvan vir ons eie bestaan en omstandighede op aarde.  Die hele spiritualiteit van die Nuwe Testament is egter gebou op die basis van die kruis van Jesus en wat op daardie kruis gebeur het.  Daarom is dit krities belangrik vir ons om stil te gaan staan by die kruis en toe te laat dat die Heilige Gees vir ons wys wat alles gesterf het aan daardie kruis en wat ons moet dood reken op grond van daardie sterwe saam met Christus. 

Daar is groot lesse wat God vir my en jou wil leer aan die voet van die kruis om ons voor te berei vir die opstandingskrag wat Hy in ons lewens wil realiseer.  Paulus was ‘n man wat baie lank stil gaan staan het by die kruis en weer en weer terug gekeer het om die kruisgebeure vars te hou in sy bewussyn. Daar is geen ander oplossing vir die geestelike oppervlakkigheid van ons generasie nie.

Dink ‘n bietjie na oor die volgende kragtige stellings wat Paulus oor die kruis maak in sy brief aan die Galasiërs.  Mag dit vir jou en my ‘n venster wees wat die groter geheel van die boodskap van die kruis in die Bybel vir ons ontsluit om sodoende ons lewens radikaal te transformeer.

“Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.”  Galasiërs 2:20 

“O, Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig?”  Galasiërs 3:1


“Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.”  Galasiërs 6:14

Tuesday, 26 July 2016

GEESTELIKE WEESKINDERS

“Ek sal julle nie as wese agterlaat nie..."  Johannes 14:18

Waarom is daar so baie gelowiges vandag wat soos geestelike weeskinders leef? Waarom word gelowiges heen en weer gedryf deur elke wind van lering (Efes. 4:14) in plaas daarvan om volwasse te word in Christus met vaste grond onder hulle voete? 

Gelowiges wat weet dat Christus in hulle leef is nie gedurig op soek na nog 'n manifestasie of 'n nuwe lering of 'n nuwe leier of 'n uiterlike aanraking of nog 'n ondervinding nie.  Hulle bely eerder saam met Paulus:  “... in Christus woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en ons het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag, en ...”dat ek Hom mag ken en die krag van Sy opstanding."  Sien Kolossense 2: 9-10 en Filippense 3:10. 


Alles wat ons ooit sal nodig hê is in Christus en Hy leef in ons.  Miskien ís jy onvervuld en ontevrede met die peil van jou geestelike lewe, maar soek jou vervulling in Christus.  Die volheid van die Gees word net in Hom gevind.

Thursday, 21 July 2016

DIE NUWE ERA IS HIER!

"Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het...om die aangename jaar van die Here aan te kondig." Lukas 4:18-19

Jesus se koms na hierdie aarde was die begin van 'n splinternuwe era. Heel aan die begin van Sy bediening kondig Hy aan dat die "aangename jaar van die Here" aangebreek het. Die jaar (lees "era") van die guns van God op grond van Jesus se verlossingsverdienste was ingelui.  Jesus kon dit aankondig selfs voor Hy na die kruis gegaan het, want Hy het reeds in Homself die nuwe era bedien aan mense.

Ek en jy leef twee duisend jaar plus in die nuwe era in. Die vraag is egter of ons dink en leef vanuit hierdie werklikheid.  Baie van ons kan terugdink aan ‘n goue era in ons eie lewens toe alles vir ons waarskynlik aangenaam, vars en vreugdevol was.  So leef ons dikwels in herinneringe van wat was óf dalk ‘n vae hoop van wat kan wees.

“Moenie sê nie: Hoe kom dit dat die vorige dae beter was as die teenswoordige? want nie uit wysheid vra jy hierna nie.”  Prediker 7:10

God daag ons uit om ons bewussyn te verander en dit in lyn te kry met die werklikheid van die evangelie wat hier en nou waar is en rewolusionêre verandering in ons lewens kan bring mits ons dit glo en met oorgawe omhels. Ons kan nie ons gisters terugkry nie, maar ons môres kán gevorm word deur die heerlikheid en krag van die Goeie Nuus wat vandag en vir ewig waar is in Christus!


“En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Romeine 12:2  

Monday, 18 July 2016

KERK DISSIPEL OF JESUS DISSIPEL?

“En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.” Johannes 8:31  (OAV)

 “Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels.” Johannes 8:31  (NAV)

Jesus maak dit baie duidelik in hierdie vers dat sý dissipels ‘n direkte verhouding het met sy Woord.  So vroeg soos die Roomse institusionalisering van die kerk het die kerk dissipel al grootskaals begin toeneem en die Jesus dissipel het so skaars soos hoendertande geword. 

‘n Kerk dissipel is eenvoudig iemand wat Sondag vir Sondag na preke kan luister en sy gewete daarmee sus dat hy nie nodig het om self die Bybel te lees, bestudeer en gehoorsaam nie.  Sy verwantskap met die kerk gee vir hom die idee dat hy self outomaties ook ‘n intieme verwantskap met Jesus het sonder ‘n persoonlike liefde en waardering vir die Woord van Christus.  Dit is ‘n baie ernstige, maar ongelukkig ook ‘n baie algemene misleiding.

Oor die hele spektrum van jarelange getroue lidmate van gemeentes tot die groeiende getal belydende Christene wat glad nie betrokke is by enige plaaslike gemeente nie is daar ‘n kultuur van kerk dissipelskap wat persoonlike verhouding met Jesus deur middel van ‘n diepgaande omgang met sy Woord opsioneel maak.  So asof ek via ‘n pastoor of dominee se geloof en Bybelstudie (of die televisie predikers s’n) ‘n tipe van geestelike osmose met die Bybel kan beleef wat my eie verhouding met die Woord van Christus geheel en al oorbodig maak. 

Ek wil jou dan reguit vra: Is jy ‘n kerk dissipel of ‘n Jesus dissipel?  Miskien is jy al vir dekades lank ‘n kerk dissipel.  God nooi selfs vir jou vandag uit om ‘n Jesus dissipel te word.  Moet asseblief nie ‘n self-verdedigende houding inneem t.o.v. my vraag aan jou nie.  Kies die pad van nederige erkenning. Dit is so verfrissend en vervullend om te beleef hoe die Heilige Gees ‘n mens leer uit die Bybel wanneer jy self erns begin maak met die Skrifte en dit ís God se uitgesproke en neergepende wil ook vir jou. 


Jou daaglikse omgang met die Woord in kinderlike afhanklikheid sal jou vinniger by geestelike volwassenheid bring as dekades se tweedehandse kontak met Goddelike openbaring.  So sal jy ook dan vind dat jou waardering van die lering wat jy in die gemeente ontvang vir jou baie meer betekenisvol en vervullend raak.  Mits dit Skrifgetroue en Christus-gesentreerde lering is.  Slegs d.m.v. jou nuutgevonde persoonlike avontuur in die Woord sal jy dit ook met tyd kan begin onderskei. Anders bly jy maar ‘n slaaf van wat ookal vir jou opgedis word as geestelike voedsel en as jou gemeente of denominasie ernstig begin dwaal is jy en jou gesin in die middel van die spervuur sonder die vermoë om die geestelike verwoesting wat onvermydelik gaan volg, mis te loop.

Thursday, 14 July 2016

HOEKOM KAN MOTIVERINGSBOODSKAPPE NIE PERMANENTE VERANDERING BRING NIE?

Motiveringsboodskappe is ‘n eksterne stimulus wat van buite af na binne verandering wil bring in ons lewens. Motiveringsboodskappe wil ons nuwe impetus gee deur ‘n positiewe lewensingesteldheid (postive mental attitude) wat kwansuis alle negatiewe omstandighede en selfs persoonlikheidsgebreke kan oorheers. 

Motiveringsboodskappe neem egter tipies nooit die totale gevallenheid van die mens in ag nie en daarom werk dit nie met die kruis as basis nie.  Dit probeer eerder karring aan jou siel om die menslike “masjien” reg te laat funksioneer.  Ons probleem is egter dat ons diep aan die binnekant heeltemal stukkend is.  Daarom kan net die evangelie ons plaas op die pad na herstel.  Die kruisboodskap bring eerstens vergifnis van sondes, mits ons bereid is om te erken dat ons grootste probleem sonde is en die stráf van die sonde voor ‘n heilige God.  Dit doen die motiveringsboodskap nooit nie.  Sonde is ‘n taboe onderwerp in die motiveringsheelal, want dit is hopeloos te “negatief”. 

Maar dan gaan die kruisboodskap verder en leer ons dat lewe en vreugde net uit die dood kan kom.  Dit leer ons dat ons gesterf het “saam met Christus” (Gal. 2:20) en dat hierdie gesamentlike sterwe die basis is van álle ware en permanente verandering in ons lewens.  Net hier sien ons die groot verskil tussen die motiveringsboodskap en die evangelie.  Die positiwiteit van die evangelie is in totaliteit gebaseer op die kruisdood van Jesus.  Lewe slegs uit die dood.  Dit is die kern van die Christelike boodskap.

Motiveringsboodskappe is in die meeste gevalle net “window dressing”.  Dit stof jou bietjie af en laat jou beter lyk van buite.  Bo blink, maar onder…. Ongelukkig is die evangelie in baie kerke en denominasies vandag vervang met die motiveringsboodskap en daarom is baie mense se lewens lankal besig om fundamenteel te verkrummel, maar hulle gaan voort met die klug van normaliteit d.m.v. eksterne motivering.  Totdat die wiele heeltemal afkom.


Die evangelie werk van binne af. Dit gee jou ‘n nuwe gees en begin dan jou siel stelselmatig herstel om van jou in alle aspekte ‘n heel mens te maak. Dit skei jou deur die kruis van die gevallenheid van die ou skepping en ontsluit dan vir jou die heerlikheid van die nuwe skepping in Christus. Net die evangelie kan ons gesonde, stabiele en volwasse mense maak.  Moenie geflous word deur die populêre boodskappe van ons tyd nie.  Moenie tevrede wees met enigiets minder as ware en diepgrondige verandering nie.

Monday, 11 July 2016

SOEKERS WAT NOOIT VIND

Koos du Plessis se "ou, ou liedjie" praat van "soekers wat nooit vind" nie. Volgens die Bybel is daar nie iets soos ware soekers wat nooit vind nie. Daar is wel baie in die Bybel oor halfhartige soekers wat teleurgesteld bly omdat hulle nooit by vervulling uitkom nie.

"Ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef,  as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte,  dan sal jy die vrees van die Here verstaan en die kennis van God vind."  Spreuke 2:3-5

Hier is een van die honderde beloftes in die Bybel dat soekers wel sal vind.  Maar let op na die intensiteit van die soekers wat vind.

Ons leef in die era van halfhartige soekers. Te veel ander dinge wat ons aandag opeis en ons harte verdeel. Dit is hoekom ons dikwels heel tevrede is met afgewaterde motiveringsboodskappies wat paradeer as geestelike kos, selfs al verander dit absoluut niks in ons lewens nie. Dit is ook hoekom ons gou protesteer wanneer iemand vir ons 'n bietjie vaste kos uit die Bybel wil gee. Want dit vereis dat ons self moet dink, bepeins, reflekteer en verteer. Maar daar is geen ander manier om geestelik volwasse te word nie. Hoe honger is jy vir die Woord van God? Dit sal bepaal of jy 'n soeker gaan wees wat sal vind of nie.

Thursday, 7 July 2016

WANNEER JESUS PRAAT MET SY GEMEENTES

"Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien. Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou." Openbaring 3:17-19


In Openbaring 2 en 3 sien ons dat Jesus 'n baie spesifieke boodskap vir elk van sewe van Sy gemeentes van die tyd gee. Dit is nie net vir ons opgeskryf om kennis op te doen van Jesus se lering oor verskillende aspekte van gemeentes se bestaan op aarde nie. Dit is ook vir ons neergepen sodat ons akuut bewus kan wees van die feit dat Jesus vandag nog intiem betrokke is by elkeen van Sy gemeentes en dat Hy deur sy Woord en Gees lewende inspraak wil gee. Hy weet wat ons ware geestelike kondisie is en Hy het 'n bepaalde boodskap vir ons as ons net wil luister! Is ons oop en ontvanklik vir die stem van Jesus of is ons vasgevang in menslike tradisies, vormgodsdiens en 'n bloot akademiese omgang met die Skrifte? 

Tuesday, 5 July 2016

DIE OPSTANDINGSLEWE VAN DISSIPELS

Die groot skeidingslyn in elke gelowige se lewe kom die dag wanneer hy die finaliteit van die kruis sien. Die hele Christelike lewe kan vanuit twee perspektiewe bekyk word. Van die buitekant mag twee gelowiges byvoorbeeld presies dieselfde dinge doen, maar as ons na hulle innerlike motivering sou kyk, mag daar ‘n reuse verskil wees. Die een verstaan die finaliteit van die kruis en derhalwe lewe hy op opstandingsgrond en in opstandingskrag. Die ander een ken slegs die vergifnis van die kruis en dus lewe hy primêr in die krag van sy eie besluite. Sekerlik word ons op baie plekke in die Nuwe Testament sterk vermaan om ywerig te wees en die regte besluite te maak, maar al hierdie vermanings is gebaseer op ons posisie as gekruisigde mense.

Ons totale lewe en bestaan as dissipels van Jesus is gebaseer op ‘n baie spesifieke gebeurtenis, naamlik die kruisiging van Jesus. Toe Jesus aan daardie kruis gesterf het, het Hy nie slegs vir ons gesterf nie, maar ons het saam met Hom gesterf. Jy het gesterf vir die ou, onafhanklike Adamiese lewe en is daarom onder verpligting om nou in die krag en wysheid van Christus te leef, nie jou eie nie. Dit is nie ‘n wens of ‘n belofte nie, maar ‘n feit. Jy hoef dit nie te maak werk nie. Jy moet net in geloof daaruit begin leef.