"Die
Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het...om die aangename jaar van
die Here aan te kondig." Lukas 4:18-19
Jesus se koms na hierdie aarde was die begin van 'n
splinternuwe era. Heel aan die begin van Sy bediening kondig Hy aan dat die
"aangename jaar van die Here" aangebreek het. Die jaar (lees
"era") van die guns van God op grond van Jesus se verlossingsverdienste
was ingelui. Jesus kon dit aankondig
selfs voor Hy na die kruis gegaan het, want Hy het reeds in Homself die nuwe
era bedien aan mense.
Ek en jy leef twee duisend jaar plus in die nuwe era in.
Die vraag is egter of ons dink en leef vanuit hierdie werklikheid. Baie van ons kan terugdink aan ‘n goue era in
ons eie lewens toe alles vir ons waarskynlik aangenaam, vars en vreugdevol was. So leef ons dikwels
in herinneringe van wat was óf dalk ‘n vae hoop van wat kan wees.
“Moenie sê
nie: Hoe kom dit dat die vorige dae beter was as die teenswoordige? want nie
uit wysheid vra jy hierna nie.” Prediker
7:10
God daag ons uit om ons
bewussyn te verander en dit in lyn te kry met die werklikheid van die evangelie
wat hier en nou waar is en rewolusionêre verandering in ons lewens kan bring
mits ons dit glo en met oorgawe omhels. Ons kan nie ons gisters terugkry nie,
maar ons môres kán gevorm word deur die heerlikheid en krag van die Goeie Nuus
wat vandag en vir ewig waar is in Christus!
“En word
nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing
van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en
volmaakte wil van God is.” Romeine 12:2
No comments:
Post a Comment