“En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As
julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.” Johannes 8:31 (OAV)
“Toe sê
Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle
waarlik my dissipels.” Johannes 8:31
(NAV)
Jesus maak dit baie duidelik in hierdie vers dat sý
dissipels ‘n direkte verhouding het met sy Woord. So vroeg soos die Roomse institusionalisering
van die kerk het die kerk dissipel al grootskaals begin toeneem en die Jesus
dissipel het so skaars soos hoendertande geword.
‘n Kerk dissipel is eenvoudig iemand wat Sondag vir
Sondag na preke kan luister en sy gewete daarmee sus dat hy nie nodig het om
self die Bybel te lees, bestudeer en gehoorsaam nie. Sy verwantskap met die kerk gee vir hom die
idee dat hy self outomaties ook ‘n intieme verwantskap met Jesus het sonder ‘n
persoonlike liefde en waardering vir die Woord van Christus. Dit is ‘n baie ernstige, maar ongelukkig ook
‘n baie algemene misleiding.
Oor die hele spektrum van jarelange getroue lidmate
van gemeentes tot die groeiende getal belydende Christene wat glad nie betrokke
is by enige plaaslike gemeente nie is daar ‘n kultuur van kerk dissipelskap wat
persoonlike verhouding met Jesus deur middel van ‘n diepgaande omgang met sy
Woord opsioneel maak. So asof ek via ‘n
pastoor of dominee se geloof en Bybelstudie (of die televisie predikers s’n) ‘n
tipe van geestelike osmose met die Bybel kan beleef wat my eie verhouding met
die Woord van Christus geheel en al oorbodig maak.
Ek wil jou dan reguit vra: Is jy ‘n kerk dissipel
of ‘n Jesus dissipel? Miskien is jy al
vir dekades lank ‘n kerk dissipel. God
nooi selfs vir jou vandag uit om ‘n Jesus dissipel te word. Moet asseblief nie ‘n self-verdedigende houding
inneem t.o.v. my vraag aan jou nie. Kies
die pad van nederige erkenning. Dit is so verfrissend en vervullend om te
beleef hoe die Heilige Gees ‘n mens leer uit die Bybel wanneer jy self erns
begin maak met die Skrifte en dit ís God se uitgesproke en neergepende wil ook
vir jou.
Jou daaglikse omgang met die Woord in kinderlike
afhanklikheid sal jou vinniger by geestelike volwassenheid bring as dekades se tweedehandse
kontak met Goddelike openbaring. So sal
jy ook dan vind dat jou waardering van die lering wat jy in die gemeente
ontvang vir jou baie meer betekenisvol en vervullend raak. Mits dit Skrifgetroue en
Christus-gesentreerde lering is. Slegs d.m.v. jou nuutgevonde persoonlike avontuur in die Woord sal jy
dit ook met tyd kan begin onderskei. Anders bly jy maar ‘n slaaf van wat ookal
vir jou opgedis word as geestelike voedsel en as jou gemeente of denominasie
ernstig begin dwaal is jy en jou gesin in die middel van die spervuur sonder
die vermoë om die geestelike verwoesting wat onvermydelik gaan volg, mis te
loop.
No comments:
Post a Comment