Thursday, 14 July 2016

HOEKOM KAN MOTIVERINGSBOODSKAPPE NIE PERMANENTE VERANDERING BRING NIE?

Motiveringsboodskappe is ‘n eksterne stimulus wat van buite af na binne verandering wil bring in ons lewens. Motiveringsboodskappe wil ons nuwe impetus gee deur ‘n positiewe lewensingesteldheid (postive mental attitude) wat kwansuis alle negatiewe omstandighede en selfs persoonlikheidsgebreke kan oorheers. 

Motiveringsboodskappe neem egter tipies nooit die totale gevallenheid van die mens in ag nie en daarom werk dit nie met die kruis as basis nie.  Dit probeer eerder karring aan jou siel om die menslike “masjien” reg te laat funksioneer.  Ons probleem is egter dat ons diep aan die binnekant heeltemal stukkend is.  Daarom kan net die evangelie ons plaas op die pad na herstel.  Die kruisboodskap bring eerstens vergifnis van sondes, mits ons bereid is om te erken dat ons grootste probleem sonde is en die stráf van die sonde voor ‘n heilige God.  Dit doen die motiveringsboodskap nooit nie.  Sonde is ‘n taboe onderwerp in die motiveringsheelal, want dit is hopeloos te “negatief”. 

Maar dan gaan die kruisboodskap verder en leer ons dat lewe en vreugde net uit die dood kan kom.  Dit leer ons dat ons gesterf het “saam met Christus” (Gal. 2:20) en dat hierdie gesamentlike sterwe die basis is van álle ware en permanente verandering in ons lewens.  Net hier sien ons die groot verskil tussen die motiveringsboodskap en die evangelie.  Die positiwiteit van die evangelie is in totaliteit gebaseer op die kruisdood van Jesus.  Lewe slegs uit die dood.  Dit is die kern van die Christelike boodskap.

Motiveringsboodskappe is in die meeste gevalle net “window dressing”.  Dit stof jou bietjie af en laat jou beter lyk van buite.  Bo blink, maar onder…. Ongelukkig is die evangelie in baie kerke en denominasies vandag vervang met die motiveringsboodskap en daarom is baie mense se lewens lankal besig om fundamenteel te verkrummel, maar hulle gaan voort met die klug van normaliteit d.m.v. eksterne motivering.  Totdat die wiele heeltemal afkom.


Die evangelie werk van binne af. Dit gee jou ‘n nuwe gees en begin dan jou siel stelselmatig herstel om van jou in alle aspekte ‘n heel mens te maak. Dit skei jou deur die kruis van die gevallenheid van die ou skepping en ontsluit dan vir jou die heerlikheid van die nuwe skepping in Christus. Net die evangelie kan ons gesonde, stabiele en volwasse mense maak.  Moenie geflous word deur die populêre boodskappe van ons tyd nie.  Moenie tevrede wees met enigiets minder as ware en diepgrondige verandering nie.

No comments:

Post a Comment