Wednesday 22 February 2017

DIE VOLGORDE IS KRITIES BELANGRIK!

Soms hoor ons mense sê die Bybel is die "Handboek vir die lewe"; dit is die "Eienaar se Handleiding".  Dit leer ons m.a.w. hoe om te lewe volgens "die spesifikasies van die Skepper" wat ons gemaak het.  Dit is baie kosbaar en waar, maar is die Bybel primêr 'n boek wat ons leer hoe om te lewe?  Ek dink nie so nie.  Die Bybel is primêr 'n boek wat ons leer wie God is en dan wie ons is in Hom. Dááruit vloei die praktyk van ons lewens.

Alles wat die Bybel ons leer oor 'n wyse en waardige lewe op aarde is 100% gebaseer op ons identiteit in Christus.   God vereis 'n heilige, regverdige en liefdevolle lewe van Sy skepsels omdat dit is wie Hý is en ons is geskape na Sý beeld en gelykenis.

"En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape." Genesis 1:27

Die Sondeval het natuurlik die skakel tussen ons en God gebreek en van ons gemaak wie ons nie is nie.  Wedergeboorte herstel die skakel en bring boonop die uiters belangrike ekstra dimensie van Christus wat in ons kom woon.  Daarom moet al die opdragte en oproepe tot 'n heilige lewe nou gelees word in die lig van wie God is en wie ons is in Hom. 

"Omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig." 1 Petrus 1:16 

Die kruis van Jesus is daarom ook nie net die basis vir vergifnis van sondes nie, maar die "swaard" van God wat ons afsny van alles wat ons nie is nie, sodat ons kan wees wie ons wel is in Christus.

"Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld." Galasiërs 6:14 


As jy weer 'n opdrag sien in die Bybel vra die vraag "wie is God en wie is ek"?  Dit werp 'n heel nuwe lig op die "spesifikasies van die Skepper". 'n Koning se seun of dogter verteenwoordig die Koning en moet optree soos Hy sou optree in elke situasie.  Onthou wie jy is en ook wie jy nie is nie. Onthou veral Wie in jou leef!

Tuesday 21 February 2017

KAN LEIERSKAP 'N VLOEK WORD?

Jesus het nie gesê "Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek stuur vir julle apostels, pastore en dominees" nie, maar:

”Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe." Johannes 14:18 

Na die uitstorting van die Heilige Gees op die dag van Pinkster ontvang elke ware dissipel van Jesus onmiddellik die Gees van Christus by die wedergeboorte.  Ons verhouding met Jesus is van daardie oomblik af persoonlik en direk.  Daarom is enige vorm van dissipelskap of leierskap wat mense nie toenemend bewus maak van hierdie direkte verhouding met Jesus nie totaal uit voeling met die hele gees van die Nuwe Verbond. 


Ons hoor baie van bevryding vandag.  Laat my toe om 'n radikale stelling te maak. Die mees algemene bevryding wat die meeste mense in gemeentes vandag nodig het, is bevryding van die soort verhouding met gemeenteleiers wat net Jesus se prerogatief is!  Hy alleen is die Middelaar, Verlosser en Hoof van Sy gemeente.  Hy wil elkeen van Sy kinders persoonlik bedien en persoonlik ken in 'n groeiende en lewende verhouding. As leierskap in gemeentes hierdie verhouding met Jesus belemmer in plaas van bevorder word dit 'n vloek en nie 'n seën nie.

Monday 20 February 2017

DIE DIOTREFES EPIDEMIE

Ware en geldige leierskap in gemeentes erken die Hoofskap van Christus en Sy gesag deur middel van die Bybel in die praktyk, nie net as 'n teorie nie.

Enigiemand wat kriewelrig raak wanneer die fokus op Christus se absolute gesag in die gemeente geplaas word, wat gedurig hamer op gesag en onderwerping, wat tot vervelens toe praat van “covering” en wat begin om mense geestelik te intimideer en manipuleer wanneer hulle opstaan in hulle eie bedieninge en gawes is vanselfsprekend deurtrek met die gesindheid van ‘n Diótrefes:

“Ek het aan die gemeente geskrywe, maar Diótrefes, wat onder hulle die eerste wil wees, steur hom nie aan ons nie.” 3 Johannes vers 9

Diótrefes was ‘n leier in die gemeente wat die apostel Johannes aan skryf.  Hy was waarskynlik ‘n dinamiese man met ‘n sterk persoonlikheid wat sy eie gesag opgestel het , onafhanklik van die apostels in die antieke kerk.  Ons weet nie veel van hom nie, maar genoeg om sy gesindheid en benadering tot geestelike leierskap te identifiseer en te weerlê sou dit in ons gemeentes sy verskyning maak. Twee dinge is duidelik uit ons teks: Hy wou die kitaar slaan in die gemeente en hy het die instruksie en gesag van die apostels ignoreer.

Hoe moet ons dit interpreteer vir vandag?  Eerstens moet ons sekerlik erken dat ons hele "clergy -laity" sisteem vandag homself wawyd oopstel vir die gees van Diotrefes.  Diotrefes sou homself heerlik kon uitleef in ons hedendaagse gemeentes en ons sou waarskynlik nie eers gedink het daar is iets fout nie.  Of dalk ís ons gemeentes werklik vol Diotrefese en ons identifiseer net nie die probleem nie? 

Tweedens is die gesag van die apostels van die Nuwe Testament vandag net op een plek te vinde en dit is in die geskrewe Nuwe Testament.  Enigiemand wat dus die reg van ander gelowiges in ‘n gemeente om ook vir hulleself die Skrif te ondersoek, ondermyn of wat die gesag van die Bybel ignoreer en homself as gesag aanstel oor die Bybel is ‘n  moderne Diotrefes.

"Maar julle, laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester: Christus, en julle is almal broeders.  En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is.  Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle leermeester: Christus.Mattheüs 23:8-10

Ongelukkig, as ons moet eerlik wees,  is die meeste van ons leierskapstrukture vandag "Diotrefes strukture" wat die geestelike groei van die individuele  dissipel van Jesus subtiel ondermyn.  Dit nooi as’t ware hierdie dominerende gees uit om homself tuis te maak in ons gemeentes.  Verder is die hele Nuwe Apostoliese Reformasie (die sogenaamde NAR) ‘n baie aggressiewe beweging wat ‘n heel nuwe dimensie gee aan die Diotrefes probleem in gemeentes.  Dit promoveer skaamteloos die Diotrefes model van leierskap op 'n streeksvlak (trans-lokaal) en die meeste gelowiges en selfs leiers in plaaslike gemeentes is salig onbewus van wat aan die gang is. 


Die NAR is obsessief oor leierskap en dit verkondig en versprei "apostoliese gesag" deur die tekste oor apostels in die Nuwe Testament net so toe te pas op hedendaagse "apostels".  Die apostel se woord is dan wet en as't ware gelykstaande aan die Bybel in die praktyk van hierdie gemeentes.  Dit is niks anders as 'n volskaalse Diotrefes epidemie nie en dit het die potensiaal om die persoonlike verhouding van dissipels met Jesus radikaal te ondermyn.  Dit is in 'n sin 'n nuwe vorm van Rooms Katolieke leierskap en ons moet dit dringend afwys en verwerp op Bybelse gronde.

Monday 13 February 2017

DIE LEIERSKAP WAT VRYHEID, VREUGDE EN VRUGBAARHEID BRING

"Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel."  2 Korinthiërs 11:2 

Paulus het vurig geywer vir die gelowiges wat onder sy bediening gestaan het, maar sy ywer was om hulle aan Jesus te verbind, nie aan homself nie.  Hierdie vers herinner 'n mens dadelik aan Johannes die Doper se bedieningsfilosofie.

"Hy moet meer word, maar ek minder.Johannes 3:30 

So eenvoudig en verfrissend, is dit nie?  Wat 'n lafenis om mense net heeltyd te wys op die absolute gesag van Jesus deur Sy Woord en Gees!  Ons kan voorbeelde wees van Jesus, maar nooit plaasvervangers nie.  In 'n sin kan 'n mens sê ons kan Jesus wys vir mense, maar nooit Jesus wees vir mense nie.  Ons het nie nodig om dit te doen nie, want Hy is teenwoordig deur Sy Gees.  Ons moet Hóm bedien aan mense, nie onsself nie.

"Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here, en onsself as julle diensknegte om Jesus wil." 2 Korinthiërs 4:5 


As jy 'n leier is wat Jesus probeer wees vir mense, haal die las van jou skouers af en wys Hom liewer vir mense.  Dit is baie meer effektief en nie naastenby so uitputtend nie.  As jy leiers volg asof hulle Jesus is, staak dit en kry jou oë liewer op Jesus self.  Hy is nie afwesig nie.  Hy leef in jou.

Wednesday 8 February 2017

MOET EK "WORRY"?

Dit is darem vreemd hoe die dinge wat vir ons so belangrik is op aarde heel onder aan die hemel se prioriteitelys is.  Vat nou maar die volgende teks in Filippense:

"Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God." Filippense 4:6 

Oor niks?  Regtig oor niks?  Ja sowaar, alles wat jou ontstel en jou bekommer in hierdie lewe moet jy (mag jy!) net so en sonder versuim voor die Vader bring en dit dan by Hom los.   Klink darem baie onverantwoordelik nê?  Mens moet mos "worry"!  Die Bybel leer egter konsekwent dat God ons aandag op Hom soek.  Ons moet ons kragte, energie en fokus op Sy koninkryk kry. 


Ja, natuurlik moet ons werk en 'n tuiste skep vir ons gesinne, maar ons moet dit doen binne die ruimte en waardestelsel van die koninkryk van God wat alreeds vir dissipels van Jesus 'n werklikheid is.  As ons hele lewe en aandag 24/7 ingestel is op tydelike dinge is daar groot fout.  Dan is ons waardestelsel nog nie ordentlik omgedop deur die Heilige Gees nie.  Wat ontstel jou?  Wat bekommer jou?  Wat gee vir jou maagsere?  God se oplossing is eenvoudig maar baie radikaal:  "Wees oor niks besorg nie."  Gee dit oor in God se hande sodat jy besig kan raak met die waardes van die koninkryk.

Monday 6 February 2017

TRANE WAT GENEES

Die trane van ware berou en die trane van die dissipels van Jesus is baie kosbaar vir die Here en dit kan baie genesing bring .

"U het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie?" Psalm 56:9

"Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!" Psalm 51:19

Petrus se trane het vryelik geloop toe hy besef dat hy sy Heiland en Meester waarlik drie maal verloën het.

"En vir die tweede keer het die haan gekraai; en Petrus het die woord onthou wat Jesus vir hom gesê het: Voor die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën. En hy het in trane uitgebars." Markus 14:72 

Paulus se bediening was gekenmerk deur opregte trane en sorg vir die welsyn van dissipels van Jesus.

"Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie." Handelinge 20:31 

Hier in 2 Timotheüs word trane en blydskap in dieselfde vers gebruik.  Ons weet nie hoekom Timotheüs gehuil het nie, maar dit het waarskynlik te doen gehad met broederlike liefde in Christus.  Dit was vir Paulus kosbaar, soos ook vir die Here.

"Terwyl ek verlang om jou te sien as ek aan jou trane dink, sodat ek met blydskap vervul kan word." 2 Timotheüs 1:4 

Behalwe in die geval van werklike smart is die trane van die wêreld gewoonlik die gevolg van self-bejammering en self-gerigtheid.  Andersins is dit bloot oppervlakkige en misplaaste sentimentaliteit of dit is net aansit en aandag trek.  Hierdie trane kan ongelukkig nooit ware genesing of verandering in mense se lewens bring nie al vloei dit soos riviere deur ons gemeenskappe.


Neem jou Bybelkonkordansie en soek die ander plekke op waar die Bybel praat van trane.  Dit is 'n wonderlike studie om te doen.  Vra dan jouself af of ons vandag nog so geroer word deur ons geloof soos die gelowiges in die Bybel.  Het ons geloof nie dalk te koud en klinies of bloot intellektueel geword nie?

Wednesday 1 February 2017

VERSADIGDE LIGGAME, HONGER SIELE

"Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie?Mattheüs 6:25b 

God is die Gewer van reën en voedsel en Hy maak voorsiening in die natuur om fisiese lewe op ons planeet te onderhou. Maar mense het ook 'n siel en gees wat gevoed moet word.

"Want Hy het die dorstige siel versadig en die hongerige siel met die goeie vervul." Psalm 107:9 

Jesus is die enigste "voedsel" wat mense se siele kan voed.  Dit is net in 'n lewende verhouding met Hom wat die diep honger van ons siele bevredig kan word.

"En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie." Johannes 6:35 

God het in Christus oorvloedige voorsiening vir ons gemaak om gesonde en versadigde siele te hê sodat ons ook ander kan voed met die brood van die lewe.  Maar waar les ons, ons dors en waar versadig ons, ons honger? Drink ons by die fonteine van die wêreld en eet ons by die wêreld se tafels?  God nooi ons uit om te kom aansit by die geestelike tafel wat Hy voorberei het.


"U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig." Psalm 16:11