Soms hoor ons mense sê die Bybel is die "Handboek vir die
lewe"; dit is die "Eienaar se Handleiding". Dit leer ons m.a.w. hoe om te lewe volgens "die
spesifikasies van die Skepper" wat ons gemaak het. Dit is baie kosbaar en waar, maar is die
Bybel primêr 'n boek wat ons leer hoe om te lewe? Ek dink nie so nie. Die Bybel is primêr 'n boek wat ons leer wie
God is en dan wie ons is in Hom. Dááruit vloei die praktyk van ons lewens.
Alles wat die Bybel ons leer oor 'n wyse en waardige lewe op aarde is
100% gebaseer op ons identiteit in Christus.
God vereis 'n heilige, regverdige en liefdevolle lewe van Sy skepsels
omdat dit is wie Hý is en ons is geskape na Sý beeld en gelykenis.
"En God het die
mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou
het Hy hulle geskape." Genesis 1:27
Die Sondeval het natuurlik die skakel tussen ons en God gebreek en van
ons gemaak wie ons nie is nie.
Wedergeboorte herstel die skakel en bring boonop die uiters belangrike ekstra
dimensie van Christus wat in ons kom woon.
Daarom moet al die opdragte en oproepe tot 'n heilige lewe nou gelees
word in die lig van wie God is en wie ons is in Hom.
"Omdat daar
geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig." 1 Petrus 1:16
Die kruis van Jesus is daarom ook nie net die basis vir vergifnis van
sondes nie, maar die "swaard" van God wat ons afsny van alles wat ons
nie is nie, sodat ons kan wees wie ons wel is in Christus.
"Maar wat my
betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus
Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld." Galasiërs 6:14
As jy weer 'n opdrag sien
in die Bybel vra die vraag "wie is God en wie is ek"? Dit werp 'n heel nuwe lig op die
"spesifikasies van die Skepper". 'n Koning se seun of dogter
verteenwoordig die Koning en moet optree soos Hy sou optree in elke situasie. Onthou wie jy is en ook wie jy nie is nie.
Onthou veral Wie in jou leef!
No comments:
Post a Comment