"Want ek is
jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man
verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel." 2
Korinthiërs 11:2
Paulus het vurig geywer vir die gelowiges
wat onder sy bediening gestaan het, maar sy ywer was om hulle aan Jesus te
verbind, nie aan homself nie. Hierdie
vers herinner 'n mens dadelik aan Johannes die Doper se bedieningsfilosofie.
"Hy moet meer word, maar ek minder." Johannes 3:30
So eenvoudig
en verfrissend, is dit nie? Wat 'n
lafenis om mense net heeltyd te wys op die absolute gesag van Jesus deur Sy
Woord en Gees! Ons kan voorbeelde wees
van Jesus, maar nooit plaasvervangers nie.
In 'n sin kan 'n mens sê ons kan Jesus wys vir mense, maar nooit Jesus
wees vir mense nie. Ons het nie nodig om
dit te doen nie, want Hy is teenwoordig deur Sy Gees. Ons moet Hóm bedien aan mense, nie onsself
nie.
"Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus
Jesus as Here, en onsself as julle diensknegte om Jesus wil." 2 Korinthiërs 4:5
As jy 'n leier
is wat Jesus probeer wees vir mense, haal die las van jou skouers af en wys Hom
liewer vir mense. Dit is baie meer
effektief en nie naastenby so uitputtend nie.
As jy leiers volg asof hulle Jesus is, staak dit en kry jou oë liewer op
Jesus self. Hy is nie afwesig nie. Hy leef in jou.
No comments:
Post a Comment