Dit is darem vreemd hoe die dinge wat vir ons so belangrik is op aarde
heel onder aan die hemel se prioriteitelys is.
Vat nou maar die volgende teks in Filippense:
"Wees oor niks
besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met
danksegging bekend word by God." Filippense 4:6
Oor niks? Regtig oor niks? Ja sowaar, alles wat jou ontstel en jou
bekommer in hierdie lewe moet jy (mag jy!) net so en sonder versuim voor die
Vader bring en dit dan by Hom los. Klink darem baie onverantwoordelik nê? Mens moet mos "worry"! Die Bybel leer egter konsekwent dat God ons
aandag op Hom soek. Ons moet ons kragte,
energie en fokus op Sy koninkryk kry.
Ja, natuurlik moet ons werk en 'n tuiste skep vir ons gesinne, maar ons
moet dit doen binne die ruimte en waardestelsel van die koninkryk van God wat
alreeds vir dissipels van Jesus 'n werklikheid is. As ons hele lewe en aandag 24/7 ingestel is
op tydelike dinge is daar groot fout.
Dan is ons waardestelsel nog nie ordentlik omgedop deur die Heilige Gees
nie. Wat ontstel jou? Wat bekommer jou? Wat gee vir jou maagsere? God se oplossing is eenvoudig maar baie radikaal: "Wees oor niks besorg nie." Gee dit oor in God se hande sodat jy besig
kan raak met die waardes van die koninkryk.
No comments:
Post a Comment