Die getuienis wat God self in jou hart gee
wanneer jy wederbaar word deur die Gees is groter as enige mens se getuienis,
selfs die van die oorspronklike apostels.
Paulus sê selfs al sou hy of een van sy medewerkers 'n ander
evangelie verkondig as die oorspronklike een wat wedergeboorte tot gevolg gehad
het, durf die dissipels in Galasië nie die getuienis aanvaar nie. Nie eers 'n bonatuurlike verskyning en
verkondiging van 'n engel moet ons laat twyfel aan die oorspronklike getuienis
van die Gees in ons binneste nie.
"Maar al sou ons
of ‘n engel
uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle
verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!" Galasiërs 1:8
Die historiese werklikheid
van die dood en opstanding van Jesus wat 'n appél maak op geloof alleen (1 Kor.
15:1-6) is die enigste evangelie wat ware wedergeboorte kan bewerkstellig. Hoe sterk staan ek en jy in ons oortuiging
van die evangelie? Wat as groot name of
jou plaaslike predikante en leraars begin om die evangelie aan te pas of af te
water? Staan jy onwrikbaar op die Woord
van God en die getuienis van die Heilige Gees in jou hart of kan mense jou kop
swaai? Ek is bevrees in baie kringe
vandag het die leierskap van die kerk die soort mag oor mense se gewetens wat
eintlik net die Heilige Gees se prerogatief is.
Dink weer oor die radikale implikasies van Paulus se stelling in Galasiërs
1 vers 8.
No comments:
Post a Comment