"Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore
Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar." Johannes
1:18
Jesus het die onsigbare God kom openbaar en
daarom word elkeen wat in Jesus glo met 'n reddende geloof as't ware ingetrek
in 'n "geestelike draaikolk" met middelpuntsoekende krag. Ons blootstelling aan Jesus plaas ons op die
buiterand van die draaikolk, maar soos wat ons aanhou om "Christus te
aanskou" (2 Kor. 3:18) word ons dieper en dieper ingetrek in die
heerlikheid van God. Die mens se hart is
gemaak om onder beheer te wees van 'n allesoorheersende passie en die enigste
passie wat ooit ons rustelose harte kan bevredig is God self. Enige ander passie wat ons beetkry en ons
intrek is 'n afgod/verslawing.
Verslawing is in 'n sin niks anders as afgodery nie, want dit is iets
wat besit van my hart gekry het en my toenemend aantrek. Die evangelie is die enigste krag in die
heelal wat die gevalle menslike hart kan bevry van afgodery/verslawing, want
die evangelie stel ons bloot aan die
grootste aantrekkingskrag in die heelal, die Persoon van God.
"Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang
ons by julle gehad het en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om
die lewende en waaragtige God te dien."
1 Thessalonicense 1:9
Enigiets wat jou nie kan
bevry van afgode/verslawings nie, is nie die evangelie van Jesus Christus
nie. Of dalk verstaan jy die evangelie,
maar jou fokus is op soveel ander dinge wat onsuksesvol belowe om jou vry te
maak. Wie of wat het beheer van jou hart?
No comments:
Post a Comment