"Wanneer Christus,
wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid
geopenbaar word." Kolossense 3:4
"Christus, wat ons lewe is...". Wat 'n verstommende en heerlike
stelling! Christus gee nie net vir ons
lewe nie. Hy ís ons lewe. Sonder Jesus kan ons nie lewe nie en sonder Jesus
het ons nie lewe nie, maar Jesus is meer as net ons Bron van lewe. Jesus het nie net vir ons verlossing gebring
nie, Hyself het vir ons verlossing geword (1 Kor. 1:30). Hy is "die weg, die waarheid en die
lewe". Daarom is al die voordele
van ons redding onlosmaaklik aan Sy persoon verbind. Dit is nie net die verlossingswerk van Jesus wat
ons red nie, dit is juis ons verhouding met Hom, die Redder, wat al die voordele
en seëninge van verlossing binne ons bereik plaas. Daarom maak Jesus hierdie verstommende
stelling tydens Sy aardse bediening:
"Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie
die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen
lewe in julleself nie." Johannes 6:53
Ons geloofsverbintenis met Jesus is 'n geestelike werklikheid wat ons
so afhanklik maak van Hom soos die suurstof wat ons inasem om biologies te kan
bly voortbestaan. Jesus is in Sy persoon
en wese ons geestelike lewe en daarom moet ons baie versigtig wees dat ons nie
so besig raak met die dinge van God of die leringe oor Hom dat ons in die
proses ons persoonlike en daaglikse verhouding met Jesus verwaarloos nie.
No comments:
Post a Comment