Terwyl die "nasies
woel en nietige dinge bedink" (Ps. 2:1) is God besig om Sy ewigheidsplan deur
twee "onbelangrike" Joodse vrouens tot uitvoer te bring. Die magtiges van die land hou samesprekings
en neem groot besluite. Intussen gaan
God se plan onverpoosd voort en werk Hy deur die nederiges op maniere wat geen
mens kan uitdink nie.
"Maria het haar
sonder versuim gereed gemaak en haastig na 'n dorp in die bergstreek van Judea
gegaan. Daar het sy in Sagaria se huis
ingegaan en vir Elisabet gegroet." Lukas 1:39-40
In die gesprek (profesie)
tussen Elisabet en Maria maak Maria die volgende stelling:
"Maghebbers het Hy
van trone afgeruk en nederiges verhoog." Lukas 1:52
God
se weë is anders as mense s'n en Maria, wat die Messias (die volledige Plan van
God) in haar dra, gee 'n absoluut fantastiese uiteensetting van hierdie
anderste weë van God in die lig van die komende geboorte van die Messias. Lees haar volledige uitspraak in Lukas 1
verse 46 tot 55 en ook Psalm 2 vir agtergrond.
Alhoewel die politiese bestel van nasies steeds voortgaan op die
beginsel van die magtiges en invloedrykes weet ons as dissipels van Jesus dat
Hy reeds deur God gesalf is as Koning.
Spoedig kom Hy terug na hierdie aarde en dan is dit die nederiges wat
verhoog gaan word en die hoogmoediges wat verneder gaan word. Kom ons hou ons oë
op die ware Koning.
"Alle dinge het U
onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy
niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie
dat alle dinge aan hom onderwerp is nie;
maar ons sien Hom, naamlik Jesus..." Hebreërs 2:8-9a
No comments:
Post a Comment