Dissipels van Jesus, insluitend gemeenteleiers (wat ook maar net
dissipels is), het net een groot
Leermeester en dit is Jesus self. Menslike leraars verteenwoordig net die
Leermeester Jesus en kan of mag Hom nooit vervang nie. As Jesus dan ons groot
Leermeester is en ons is almal dissipels, waarvan nie een al volleerd is nie,
waarom het ons dan so dikwels die "jy-kan-my-niks-vertel-nie"
gesindheid teenoor dissipels van ander gemeentes as ons eie? Selfs in ons eie
plaaslike gemeentes het ons soms hierdie houding teenoor mekaar.
Net hier vind ons die groot oorsaak van soveel verdeeldheid onder
gemeentes en dissipels van Jesus. Dit is
so heerlik en geseënd om met ander dissipels (weereens insluitend
gemeenteleiers) te gesels oor ons onderskeie roepings in die koninkryk wanneer
ons werklik onder Jesus se oomblik-vir-oomblik lering deur Sy Woord en Gees staan. Maar dit is soos tande trek om te probeer
praat met mekaar wanneer daar 'n "jy-kan-my-niks-vertel-nie"
gesindheid is. Sekerlik is die essensiële leringe van ons geloof ononderhandelbaar. Ware
dissipels is reeds een in die essensie van die evangelie. Maar daar is baie ander sake waaroor ons met
mekaar kan, en moet, praat m.b.t. ons bruikbaarheid in die koninkryk en ons
praktiese eenheid. Is ons regtig
leerbaar?
Gaan dink weer 'n slag oor die volgende vers in Jakobus wat so pragtig
en diepsinnig 'n leerbare gees en gesindheid verwoord.
"Maar die
wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit
vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig,
opreg." Jakobus 3:17 (NAV)
No comments:
Post a Comment