Wednesday, 28 March 2018

GEESTELIKE ONVERGENOEGDHEID



In Christus het ons reeds alles ontvang wat ons ooit sal nodig hê.  Ons is volkome in Hom.  Hy is ons wysheid, geregtigheid, heiliging en verlossing.  Ons is voor ons nog 'n enkele ding gedoen het reeds "sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul".  Ons is klaar geseën met álle geestelike seëninge in die hemele in Christus.  Ons het reeds die diepste moontlike eenheid met alle mense wat in Christus is deur die wedergeboorte.  Ons moet net hierdie "eenheid van die Gees" bewaar "deur die band van die vrede" (Efes. 4:3).

Op grond van hierdie en honderde soortgelyke nuwe skeppingsrealiteite in Christus word ons opgeroep om 'n geesvervulde lewe van oorwinning en diensbaarheid te lei ongeag ons omstandighede op hierdie aarde.  Ons staan onder opdrag om die "dinge wat daarbo is te bedink", omdat ons lewens reeds nou-al "saam met Christus verborge is in God"(Kolossense 3:2-3).  Ons is dus reeds vervuld in Christus, maar ons moet aanhou om die volle manifestasie van hierdie volheid uit te leef op aarde.

In ons begeerte om hierdie lewe van oorwinning in Christus in geloof te realiseer gebeur dit egter soms dat ons geestelik onvergenoegd raak en as't ware vergeet wat ons reeds in Christus ontvang het.  Veral as ons nie in die rus van die Here ingaan en ons oë op Hom kry nie.  Hierdie onvergenoegdheid bly ongelukkig nie net by onsself nie, maar dit spoel gewoonlik oor na ons gemeente en ons belewenis van ons gemeente.  Dan is dit nie lank nie of ons begin ly aan wat ons kan noem die Elia Sindroom.

"Here, hulle het u profete gedood en u altare het hulle afgebreek, en ek het alleen oorgebly, en hulle soek my lewe! Maar wat sê die Godspraak aan hom? Ek het vir Myself sewe duisend manne laat oorbly wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie."  Romeine 11:3-4

Elia het gedink almal in Israel het teruggeval en hy was die enigste een wat God nog werklik gesoek het.  Vir seker het ons nodig om die ware situasie van ons lewens en ons gemeentes akkuraat te assesseer.  Maar laat ons nie verval in geestelike onvergenoegdheid nie.  Dit het die potensiaal om baie mense om ons negatief en krities te maak.  Kom ons begin waar God begin; by die oorwinning van Sy Seun, m.a.w. by die evangelie.  Vanuit daardie hemelse posisie kan ons die probleme hier op aarde aanspreek sonder om in 'n slaggat van onvergenoegdheid te beland.

Wednesday, 21 March 2018

NIEMAND ANDERS KAN DIE PAD VIR JOU STAP NIE


"Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing." Filippense 2:12

Die doel van mentors,  preke,  leringe en boeke is om jou op jou voete te plaas sodat jy jou eie pad van geloof kan stap.  Daar is duisende wat so afhanklik is van ander se geloof dat hulle nooit op hulle eie voete kom en die pad self begin stap nie.

Ongelukkig is daar ook honderde bedieninge vandag wat mense hou op 'n plek van onvolwassenheid en gedurige afhanklikheid van ander.  Daardie bedieninge sou nooit kon floreer as daar nie so baie was wat ander soek om die pad vir hulle te stap nie. Staan op in geloof en begin om jou eie pad te stap. Hierdie opstaan kan net gebeur as jy begin om self die Bybel te lees, glo en gehoorsaam. Net mense wat hulle eie Bybel lees en verslind, stap hulle eie pad in geloof. 

Monday, 19 March 2018

NEDERIGHEID, GEBROKENHEID EN SWAKHEID MET 'N DOEL


"Want al is Hy gekruisig uit swakheid, lewe Hy tog uit die krag van God. Want ons is ook swak in Hom, maar ons sal saam met Hom vir julle lewe deur die krag van God." 2 Korinthiërs 13:4 

Die kruisdood van Jesus Christus is die sentrale gebeurtenis van die Nuwe Testament en van die hele Bybel.  Net aan daardie kruis demonstreer God vir alle mense in alle tye dat Sy krag radikaal anders werk as die bose magte van die duisternis en die modus operandi van die gevalle mensdom.  Sy krag "word in swakheid volbring" (2 Kor. 12:9).

Die hele Nuwe Testament getuig deurlopend van die andersom manier wat God dinge gedoen kry op hierdie aarde.  God werk deur nederigheid, gebrokenheid en swakheid.  Hy stel nie belang in menslike mag en posisie nie.  Hy keer die wêreld om deur eenvoudige vissermanne en wanneer hy 'n hoog-geleerde man soos Paulus aanraak en uitstuur, stroop Hy hom eers geheel en al van sy eie wysheid en geregtigheid (sien 1 Korinthiërs 1 en 2). 

God sal ons ook op geen ander manier gebruik in Sy diens nie.  Wanneer 'n mens dit begin verstaan val daar soveel menslike planne, organisasie en slimmigheid weg, maar daar is 'n ander gevaar wat dan na vore tree.  Ons kan so begin fokus op die nederigheid, gebrokenheid en swakheid dat ons vergeet die doel van God met hierdie gebroke voorwerpe/kruike is om Sý heerlikheid en krag bekend te maak.  Laat ons die volle werking van die kruis in ons lewens omhels, sonder om egter te vergeet dat ons in geloof moet verwag dat die krag van die Heilige Gees ín hierdie proses na vore sal tree in ons lewens.  Gaan bietjie terug na die Nuwe Testament en let op hoe swakheid en Goddelike krag altyd saam geloop het en 'n wonderlike manifestasie van Jesus in allerlei omstandighede teweeg gebring het.

Wednesday, 14 March 2018

GEBARSTE REËNBAKKE

"Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie."  Jeremia 2:13 

God alleen is "die fontein van lewende water" en Sy kinders het die voorreg om in gebed van hart tot hart met die lewende God te kommunikeer om sodoende te drink en ontvang van hierdie onuitputlike fontein. Maar dan moet ons verstaan dat ware gebed in sy essensie te doen het met net één wil, God s'n.  Gebed is dan in 'n sin ons vereniging met die wil van God deur ons diepe afhanklikheid van die Heilige Gees in ons nadering tot God op grond van die bloed van Jesus. 

"En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge." Romans 8:26 

In Handelinge 4 (en baie ander plekke in Handelinge) sien ons dat die gemeente van die Here in absolute afhanklikheid van die Heilige Gees gebid het en dat dit nie net gelei het tot beantwoorde gebed nie, maar ook tot toenemende bekragtiging deur die Gees.  Let ook op dat hulle gebede primêr gerig was op die verkondiging van die evangelie aan 'n verlore mensdom.

"En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek,  deurdat U u hand uitstrek tot genesing, en tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind.  En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek." Handelinge 4:29-31 

So wat moet ons dan, in die lig van die Bybelse data, sê van die moderne tendens om via whatsapp en ander kanale standaard/templaat "gebede" uit te stuur wat mense oproep om allerhande "verklarings" te maak oor wat ons eis moet gebeur?  Dit wil voorkom asof die mense wat hierdie "gebede" saamstel werklik glo dat as *duisende Christene  almal saam hierdie "verklarings" maak dit ongetwyfeld 'n werklikheid moet word.  Verklaar ons dan nie "in geloof" al die positiewe dinge en maak dit sodoende deur ons korporatiewe positiewe belydenis 'n realiteit nie?  Die kort antwoord is, nee.  Ongelukkig nie.  Ware gebed is 'n eenwording met God se wil in afhanklikheid van die Heilige Gees sodat ons in die oomblik kan bid wat op Gód se hart is.

Is dit verkeerd om via die moderne media dringende behoeftes bekend te maak en oproepe te maak vir dissipels van Jesus om eendragtig te bid?  Nee, sekerlik nie.  Maar die praktyk om templaat gebede uit te stuur wat primêr bestaan uit "verklarings" en bitter min afhanklikheid en ware petisie voor 'n soewereine God is 'n gebarste reënbak wat nie water kan hou, kan voorsien of kan bring nie.  Miskien moet ons eerder 'n slag die boek Handelinge indringend bestudeer en gaan kyk hoe die vroeë gemeentes gebid het en hoekom hulle so 'n impak gehad het.


* Hoe meer hoe beter; daarom dikwels die opdrag of soms selfs verskuilde dreigement/veroordeling "moenie hierdie ketting breek nie".

Monday, 12 March 2018

GOD SE ONONDERBROKE EN ONONDERHANDELBARE AGENDA

"Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het." Johannes 15:12 

Het ons nie begin om in ons generasie 'n liefdelose kultuur te skep wat net genade wil ontvang van God sonder om dit aan ander te gee nie?  Is dit nie hoekom daar so baie mense is vandag wat perfekte omstandighede eis van God sonder om Sy eis vir die gehoorsaamheid van die liefde ernstig op te neem en dit hulle belangrikste prioriteit te maak nie?

Ek wil vandag vir jou met groot oortuiging sê dat God se doel met jou en my lewe is om van ons liefdevolle mense te maak in en deur Christus.  Dit is God se ononderbroke en ononderhandelbare agenda en voordat ons nie hierdie Goddelike agenda ons eie maak nie gaan ons gedurig gefrustreerd wees met God en met ons dissipelskap, want ons is nie op dieselfde bladsy as Hy nie!  Raak 'n ekspert in die liefde.  Bestudeer die Nuwe Testament met die oog op die ontvang en uitdeel van Goddelike liefde in Christus en ek waarborg jou alles in jou lewe sal verander en jy sal die wêreld om jou in 'n totaal nuwe lig begin sien.

"Maar die doel van die gebod is liefde uit ‘n rein hart en ‘n goeie gewete en ‘n ongeveinsde geloof." 1 Timotheüs 1:5 


Die een vraag wat ons geduriug moet vra is of ons werklik besig is om lief te hê soos wat Jesus ons liefgehad het.  Die Nuwe Testament antwoord daardie vraag in verstommende detail en daarom het ons nodig om dit gedurig te lees en te lees met daardie doel voor oë!

Wednesday, 7 March 2018

DIE GROOT VOORWAARDE VIR DIE ONTSLUITING VAN DIE NUWE VERBOND

Jesus het gekom na die aarde om aan gevalle en liefdelose mense die liefde tussen Hom en die Vader te openbaar en deur te gee met die doel om van húlle liefdevolle mense te maak. Daarom moet ons so versigtig wees dat ons nie die idee by mense skep dat dit onmoontlik is om die liefde van die Vader teleur te stel nie.  Dit is net eenvoudig nie waar nie.  Hoor wat Jesus hieroor te sê het.

"Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My.  As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly." Johannes 15:9-10 

Jesus gee 'n baie duidelike opdrag aan Sy dissipels: "Bly in hierdie liefde van My".  Die liefde van Jesus is niks anders nie as die Vader se liefde vir Hom wat weer na die dissipels deurgegee word.  Dit is egter baie duidelik dat hierdie besonderse liefde by ons kan stop as ons nie Jesus se liefdesgebod gehoorsaam nie.  As ons nie aanhou om mekaar lief te hê soos wat Jesus ons liefgehad het nie is ons nie besig om te bly in Sy liefde nie. 

Dit is die groot voorwaarde vir die ontsluiting van die volle krag van die Nuwe Verbond (natuurlik nie onafhanklik van die reddende geloof wat God se liefde in die evangelie ontvang nie).  Die liefde wat jy by God ontvang het, en steeds ontvang, mag nooit by jou stop nie.  Ons moet dus baie versigtig wees met die gebruik van die frase "onvoorwaardelike liefde" in terme van die evangelie.  Daar ís 'n voorwaarde na geloof; hou aan om die liefde wat jy by Jesus ontvang het deur te gee na ander.  God het reeds Sy groot liefde bewys deur Sy Seun te stuur om in ons plek te sterf vir ons sondes, maar die vloei van hierdie liefde hang af van ons gehoorsaamheid aan Jesus se opdrag in Johannes 15 vers 12:


"Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het."

Monday, 5 March 2018

VERVANG FEILBARE MENSLIKE LIEFDE MET ONFEILBARE GODDELIKE LIEFDE


Die Bybel leer konsekwent dat ons liefde vir mekaar net kan aanhou floreer wanneer dit op die vaste rots van God se genade staan.  As ons verwysingspunt in ons verhoudings nie die Vaderhart van God is nie, is ons almal geneig om afgode te maak van ons liefde vir ander en ook hulle liefde vir ons.  Jonathan Edwards het gesê "If you idolize it, you will demonize it."  As my liefde vir iemand dus slegs in my eie gevoelens (onafhanklik van ‘n vaste sekuriteit in God se liefde) gewortel is, het ek geen waarborg dat dit nie ‘n 180 grade draai kan maak en in ‘haat’ verander as daardie persoon my op een of ander manier faal nie.  En ons almal faal een of ander tyd mekaar.

Die hoë persentasie egskeidings en gebroke verhoudings in families en gemeentes vertel hierdie verhaal ongelukkig baie beter as wat ek dit hier kan doen.  Hoe verklaar 'n mens anders die feit dat mense wat byvoorbeeld op 'n tydstip hulle liefde en trou aan mekaar voor baie getuies beloof het, later kan omdraai en mekaar verskeur met venynige en dodelike woorde. 

Daarom is dit só noodsaaklik dat ons harte gedurig versterk en verruim moet word deur die liefde van God wat vir ons mildelik in Christus uitgestort is (Heb. 13:9).  Ons moet gedurig maar net weer in geloof die kruisdood van Jesus in die blaaie van die Nuwe Testament aanskou en leer om uit dáárdie liefde te leef.   Dit alleen is vaste grond onder ons voete in al ons verhoudings en dit alleen gee ons die vermoë om ander te vergewe en steeds lief te hê, ook wanneer hulle liefde teenoor óns in 'haat’ verander het.