Die Bybel leer konsekwent dat ons liefde vir mekaar net kan
aanhou floreer wanneer dit op die vaste rots van God se genade staan. As
ons verwysingspunt in ons verhoudings nie die Vaderhart van God is nie, is ons
almal geneig om afgode te maak van ons liefde vir ander en ook hulle liefde vir
ons. Jonathan Edwards het gesê "If you idolize it,
you will demonize it." As my liefde vir iemand dus slegs
in my eie gevoelens (onafhanklik van ‘n vaste sekuriteit in God se liefde)
gewortel is, het ek geen waarborg dat dit nie ‘n 180 grade draai kan maak en in
‘haat’ verander as daardie persoon my op een of ander manier faal nie. En ons almal faal een of ander tyd mekaar.
Die hoë persentasie egskeidings en gebroke verhoudings in
families en gemeentes vertel hierdie verhaal ongelukkig baie beter as wat ek
dit hier kan doen. Hoe verklaar 'n mens anders die feit dat mense wat byvoorbeeld
op 'n tydstip hulle liefde en trou aan mekaar voor baie getuies beloof het,
later kan omdraai en mekaar verskeur met venynige en dodelike woorde.
Daarom is dit só noodsaaklik dat ons harte gedurig versterk
en verruim moet word deur die liefde van God wat vir ons mildelik in Christus
uitgestort is (Heb. 13:9). Ons moet gedurig maar net weer in geloof die
kruisdood van Jesus in die blaaie van die Nuwe Testament aanskou en leer om uit
dáárdie liefde te leef. Dit alleen is vaste grond onder ons voete in
al ons verhoudings en dit alleen gee ons die vermoë om ander te vergewe en
steeds lief te hê, ook wanneer hulle liefde teenoor óns in 'haat’ verander het.
No comments:
Post a Comment