"Want
my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het
hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen
water hou nie." Jeremia 2:13
God alleen is "die fontein van lewende water" en
Sy kinders het die voorreg om in gebed van hart tot hart met die lewende God te
kommunikeer om sodoende te drink en ontvang van hierdie onuitputlike fontein.
Maar dan moet ons verstaan dat ware gebed in sy essensie te doen het met net één
wil, God s'n. Gebed is dan in 'n sin ons
vereniging met die wil van God deur ons diepe afhanklikheid van die Heilige
Gees in ons nadering tot God op grond van die bloed van Jesus.
"En
net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet
bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge."
Romans 8:26
In Handelinge 4 (en baie ander plekke in Handelinge) sien
ons dat die gemeente van die Here in absolute afhanklikheid van die Heilige
Gees gebid het en dat dit nie net gelei het tot beantwoorde gebed nie, maar ook
tot toenemende bekragtiging deur die Gees.
Let ook op dat hulle gebede primêr gerig was op die verkondiging van die
evangelie aan 'n verlore mensdom.
"En
nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle
vrymoedigheid u woord te spreek, deurdat
U u hand uitstrek tot genesing, en tekens en wonders deur die Naam van u
heilige Kind Jesus plaasvind. En toe
hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul
met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek."
Handelinge 4:29-31
So wat moet ons dan, in die lig van die Bybelse data, sê van
die moderne tendens om via whatsapp en ander kanale standaard/templaat
"gebede" uit te stuur wat mense oproep om allerhande
"verklarings" te maak oor wat ons eis moet gebeur? Dit wil voorkom asof die mense wat hierdie
"gebede" saamstel werklik glo dat as *duisende Christene almal saam hierdie "verklarings"
maak dit ongetwyfeld 'n werklikheid moet word.
Verklaar ons dan nie "in geloof" al die positiewe dinge en
maak dit sodoende deur ons korporatiewe positiewe belydenis 'n realiteit nie? Die kort antwoord is, nee. Ongelukkig nie. Ware gebed is 'n eenwording met God se wil in
afhanklikheid van die Heilige Gees sodat ons in die oomblik kan bid wat op Gód
se hart is.
Is dit verkeerd om via die moderne media dringende behoeftes
bekend te maak en oproepe te maak vir dissipels van Jesus om eendragtig te
bid? Nee, sekerlik nie. Maar die praktyk om templaat gebede uit te
stuur wat primêr bestaan uit "verklarings" en bitter min
afhanklikheid en ware petisie voor 'n soewereine God is 'n gebarste reënbak wat
nie water kan hou, kan voorsien of kan bring nie. Miskien moet ons eerder 'n slag die boek Handelinge
indringend bestudeer en gaan kyk hoe die vroeë gemeentes gebid het en hoekom
hulle so 'n impak gehad het.
* Hoe meer hoe beter; daarom dikwels die opdrag of soms
selfs verskuilde dreigement/veroordeling "moenie hierdie ketting breek
nie".
No comments:
Post a Comment