Jesus het gekom na die aarde om aan gevalle en liefdelose
mense die liefde tussen Hom en die Vader te openbaar en deur te gee met die
doel om van húlle liefdevolle mense te maak. Daarom moet ons so versigtig wees
dat ons nie die idee by mense skep dat dit onmoontlik is om die liefde van die
Vader teleur te stel nie. Dit is net
eenvoudig nie waar nie. Hoor wat Jesus
hieroor te sê het.
"Soos
die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde
van My. As julle my gebooie bewaar, sal
julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy
liefde bly." Johannes 15:9-10
Jesus gee 'n baie duidelike opdrag aan Sy dissipels:
"Bly in hierdie liefde van My".
Die liefde van Jesus is niks anders nie as die Vader se liefde vir Hom
wat weer na die dissipels deurgegee word.
Dit is egter baie duidelik dat hierdie besonderse liefde by ons kan stop
as ons nie Jesus se liefdesgebod gehoorsaam nie. As ons nie aanhou om mekaar lief te hê soos
wat Jesus ons liefgehad het nie is ons nie besig om te bly in Sy liefde
nie.
Dit is die groot voorwaarde vir die ontsluiting van die volle
krag van die Nuwe Verbond (natuurlik nie onafhanklik van die reddende geloof
wat God se liefde in die evangelie ontvang nie). Die liefde wat jy by God ontvang het, en
steeds ontvang, mag nooit by jou stop nie.
Ons moet dus baie versigtig wees met die gebruik van die frase "onvoorwaardelike
liefde" in terme van die evangelie.
Daar ís 'n voorwaarde na geloof; hou aan om die liefde wat jy by Jesus
ontvang het deur te gee na ander. God
het reeds Sy groot liefde bewys deur Sy Seun te stuur om in ons plek te sterf
vir ons sondes, maar die vloei van hierdie liefde hang af van ons gehoorsaamheid
aan Jesus se opdrag in Johannes 15 vers 12:
"Dit
is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad
het."
No comments:
Post a Comment