Die lewe van 'n dissipel van Jesus is
eenvoudig om Hom te aanskou, te geniet, te deel met ander en te leef (uitdrukking
te gee) in al my verhoudings op aarde.
Laasgenoemde van hierdie vier aspekte kan
mees akkuraat beskryf word as liefdesgehoorsaamheid. Dit is gehoorsaamheid
vanuit die liefde van die Seun in ons en ons reaksie op daardie liefde om 'n
kanaal te wees wat weer Sy liefde vir ander demonstreer in ons gesindheid,
woorde en dade; hetsy deur ons positiewe inisiatiewe of ons respons op mense
wat moontlik teenoor ons sondig en vleeslik optree. Hierdie gehoorsaamheid is
in 'n sin radikaal anders as die uiterlike gehoorsaamheid onder die wet. Dit
opereer een honderd persent vanuit gemeenskap met die Geliefde soos wat ons Hom
aanskou en geniet. Dit werk altyd van
binne af buitentoe.
Volheid van vreugde word nou meer as net 'n
moontlikheid, dit word 'n werklikheid!
In ons gemeenskap met Jesus beleef ons onvermydelik liefdesimpulse teenoor
mense met wie ons daagliks skouers skuur.
Ons gehoorsaamheid aan hierdie innerlike impulse van Sy liefde kan
beskryf word as 'n liefdesgehoorsaamheid en dit sluit natuurlik nou aan by die
gedetailleerde moreel-etiese lering van die Nuwe Testament wat deur Jesus begin
is en die apostels voortgesit is.
Hierdie innerlike
liefdesgehoorsaamheid staan dus nooit
los van die Bybel nie, maar word eerder bevestig, versterk en gekanaliseer deur
die lering van die Bybel. Terselfdertyd rig
die lering ons ook en verseker dat ons nie hierdie liefde misinterpreteer deur
allerlei subjektiewe waarnemings en toepassings a.g.v. gedagtepatrone wat nog
nie volledig vernuwe is nie (Rom. 12:2).
Die innerlike lering en impulse van die Gees van Christus vind met tyd
perfekte harmonie met die uiterlike lering van die Bybel soos wat ons volhard
in gemeenskap met die Seun in die Woord en kinderlike gehoorsaamheid as 'n
respons op Sy liefde.
Biddende betragting van die volgende gedeelte
in Johannes 15 behoort dit vir jou baie duidelik te maak.
"Soos
die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde
van My. As julle my gebooie bewaar, sal
julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy
liefde bly. Dit het Ek vir julle gesê,
dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word. Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê
net soos Ek julle liefgehad het." Johannes 15:9-12