Monday, 24 February 2020

HOU JOU DENKE BINNE HIERDIE "IN CHRISTUS" RAAMWERK


Daar is baie maniere om te dink oor jou nuwe lewe as 'n dissipel van Jesus Christus.  Dit bring egter besonderse rus en fokus om daaroor te bly dink vanuit die eenvoud van jou verhouding met die Persoon van Christus. 

"Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus..." 2 Corinthians 11:3a (NAV)

"But I fear, lest somehow, as the serpent deceived Eve by his craftiness, so your minds may be corrupted from the simplicity that is in Christ. " 2 Korinthiërs 11:3  (NKJ)

Die volgende vier werkwoorde som as't ware die Nuwe Testament se leer op m.b.t. ons daaglikse lewe van geloof in eenheid met Christus.

  • ·         AANSKOU CHRISTUS


"En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is." 2 Korinthiërs 3:18

Jou lewe as 'n dissipel het begin toe die Heilige Gees die oë van jou hart geopen het om Jesus te "sien" in sy lieflikheid en heerlikheid.  Van daardie oomblik af het dit die primêre verantwoordelikheid van jou lewe geword om aan te hou om Hom te "aanskou" ongeag die omstandighede van jou lewe op aarde. 

Jy durf nie die oë van jou hart wegdraai van Hom nie, want geloof bly net bestendig solank as wat jy wegkyk van jouself en die "Lam van God" aanskou (Joh. 1:29; Matt. 14:29-31).  Wanneer jy die Bybel optel, onthóú dat dit in die eerste plek gaan daaroor om Jesus te sien en weer 'n vars beeld te kry van Sy heerlikheid.

Alles begin hier.  FOKUS op Christus te midde van die legio afleidings van die moderne lewe!

  • ·         GENIET CHRISTUS


"U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig." Psalms 16:11

"As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit." Kolossense 3:1

Hoe meer ek Jesus "aanskou" met onverdeelde aandag hoe meer word ek getrek na die lieflikheid van Sy Persoon deur die lering en krag van die Heilige Gees.  Weens moeilike omstandighede op 'n gevalle planeet word ons egter ook gedurig vermaan en herinner om nie te vergeet nie dat ons, ons moet "verbly in die Here" (Fil. 4:4).

  • ·         DEEL CHRISTUS MET ANDER


"Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here." Kolossense 3:16

Dit is so belangrik om in die gewoonte te kom om jou vreugde in Jesus spontaan te deel met ander soos wat die Heilige Gees jou lei m.b.t. wie, waar en hoe.  Dit verg egter soms 'n radikale verandering van geestelike klimaat en kultuur in jou huis en gemeente om te verstaan dat dit nie net pastore en dominees is wat die Woord met ons moet deel nie, maar dat ons almal geroep is om dit te doen.  En ook nie net op 'n Sondag nie, maar elke dag!

  • ·         LEEF CHRISTUS


"Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my...." Galasiërs 2:20a
"My kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry." Galasiërs 4:19

"Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens." Romeine 12:1

"Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid." Kolossense 3:12

Hierdie aspek van die Christus-lewe verg baie tyd en dikwels baie trane soos wat ons geestelik groei en as't ware leer om uit die pad uit te kom sodat Christus 'n ekspressie kan hê in ons lewens (d.w.s. nie net deur ons woorde nie, maar ons karakter, gesindheid en dade).  Dit is egter die kulminasie van die ander drie werkwoorde en dit is krities belangrik om te onthou dat ons nie net geroep is om die Woord met mekaar deel nie, maar letterlik die lewe en karakter van Jesus. 

Die nuwe lewe in ons het 'n liggaam en 'n verstand (Rom. 12:1-2) nodig om uitdrukking te vind.  Die uiterlike mens moet in lyn kom met die nuwe innerlike. 

Die Vader verwag nie van my om myself te verander nie, maar wel om in geloof te reageer op die evangelie deur Jesus te aanskou, te geniet en te deel met ander sodat die Heilige Gees toenemend ook die karakter van Jesus in my kan vorm met die oog op die ekspressie van Christus in 'n gevalle wêreld.

No comments:

Post a Comment