"Daarom,
as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan,
kyk, dit het alles nuut geword." 2 Korinthiërs 5:17
Die nuwe mens in Christus is organies en
geestelik een met Christus en daarom het daardie nuwe mens nuwe begeertes en
ook nuwe reaksies op letterlik alles in hierdie tydelike, gevalle wêreld.
In Romeine 12 vers 2 leer Paulus ons dat
ons uiterlike gedrag verander deur die vernuwing van ons denke. Dit beteken
kortliks dat ek moet leer om te dink in lyn met die nuwe skepping in Christus.
Ek is reeds 'n totaal nuwe mens in Christus. Wie ek is, is nie in 'n proses van
verandering nie. Ek is nie halfpad nuut nie. Maar my gedagtes moet wel vernuwe
word en in lyn kom met die nuwe identiteit en nuwe lewe.
Dit beteken byvoorbeeld in die praktyk dat
ek gereeld myself sal afvra in verskillende situasies in my lewe: "Is
hierdie begeerte of hierdie reaksie wat ek nou beleef uit die nuwe mens of is
dit deel van die ou onafhanklike lewe en denkpatroon?" Die antwoord op
daardie vraag bepaal dan voortaan my gedrag en optrede. Selfs met hierdie insig
verkies ons soms steeds die ou, "bekende" patrone, maar langs die weg
van gemoedsvernuwing lei die kosbare Heilige Gees ons stelselmatig na 'n volle
ekspressie van die nuwe lewe soos wat ons met geloof volhard in die "woord
van Christus" (Kol. 3:16) en die ou weë vir altyd vaarwel toeroep.
"Julle
moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe,
omdat julle een is met Christus Jesus. Moet dan nie toelaat dat die sonde nog
langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike
aardse bestaan laat gehoorsaam nie." Romeine 6:11 (NAV)
No comments:
Post a Comment