Monday, 10 February 2020

DIE ONVERANDERLIKE LEWE IN DIE WYNSTOK

"Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie." Johannes 15:4-5

Wat 'n kosbare waarheid om te bedink, dat die lewe in die Wynstok onveranderlik is.  Of ek nou geleef het in die sestiende eeu en of ek leef in die een-en-twintigste eeu onder totaal ander omstandighede in die moderne wêreld die lewe in die Wynstok is nog presies dieselfde.  Of ek sukkel met 'n perd se hoefysters of 'n motor se bande die oorwinning in my binneste kom steeds van dieselfde Persoon wat in my leef.

Deur al die eeue vir alle gelowiges (lote in die wynstok) het die Bron van ons lewens nog nooit verander nie.  Die hemelse lewe en krag van Christus verander nooit nie.  Dit maak nie saak watter krisis jy in die gesig staar of hoe moeilik jou omstandighede is nie, God se antwoord bly steeds die lewe in die Wynstok. 

Ons het nodig om minder beïndruk te wees met die detail van ons probleme en situasies en meer bewus van die onveranderlike hemelse werklikheid in Christus, daar waar ons ware lewe "saam met Hom verborge is in God" (Kolossense 3:3).  Ja vir seker, ons leef steeds óp die aarde, maar die vraag is of ons leef vanuit die aardse of vanuit die hemelse?  Hoe staan die saak in jou geval?

No comments:

Post a Comment