Wednesday, 26 February 2020

LIEFDESGEHOORSAAMHEID BRING VOLHEID VAN VREUGDE EN MAAK JESUS SIGBAAR


Die lewe van 'n dissipel van Jesus is eenvoudig om Hom te aanskou, te geniet, te deel met ander en te leef (uitdrukking te gee) in al my verhoudings op aarde.

Laasgenoemde van hierdie vier aspekte kan mees akkuraat beskryf word as liefdesgehoorsaamheid. Dit is gehoorsaamheid vanuit die liefde van die Seun in ons en ons reaksie op daardie liefde om 'n kanaal te wees wat weer Sy liefde vir ander demonstreer in ons gesindheid, woorde en dade; hetsy deur ons positiewe inisiatiewe of ons respons op mense wat moontlik teenoor ons sondig en vleeslik optree. Hierdie gehoorsaamheid is in 'n sin radikaal anders as die uiterlike gehoorsaamheid onder die wet. Dit opereer een honderd persent vanuit gemeenskap met die Geliefde soos wat ons Hom aanskou en geniet.  Dit werk altyd van binne af buitentoe.

Volheid van vreugde word nou meer as net 'n moontlikheid, dit word 'n werklikheid!  In ons gemeenskap met Jesus beleef ons onvermydelik liefdesimpulse teenoor mense met wie ons daagliks skouers skuur.  Ons gehoorsaamheid aan hierdie innerlike impulse van Sy liefde kan beskryf word as 'n liefdesgehoorsaamheid en dit sluit natuurlik nou aan by die gedetailleerde moreel-etiese lering van die Nuwe Testament wat deur Jesus begin is en die apostels voortgesit is. 

Hierdie innerlike liefdesgehoorsaamheid  staan dus nooit los van die Bybel nie, maar word eerder bevestig, versterk en gekanaliseer deur die lering van die Bybel.  Terselfdertyd rig die lering ons ook en verseker dat ons nie hierdie liefde misinterpreteer deur allerlei subjektiewe waarnemings en toepassings a.g.v. gedagtepatrone wat nog nie volledig vernuwe is nie (Rom. 12:2).   Die innerlike lering en impulse van die Gees van Christus vind met tyd perfekte harmonie met die uiterlike lering van die Bybel soos wat ons volhard in gemeenskap met die Seun in die Woord en kinderlike gehoorsaamheid as 'n respons op Sy liefde.

Biddende betragting van die volgende gedeelte in Johannes 15 behoort dit vir jou baie duidelik te maak.

"Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My.  As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.  Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word.  Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het." Johannes 15:9-12

No comments:

Post a Comment